Informele nedersettings

Volgens waarneming lyk dit of inwoners van die informele nedersetting tussen Ellisras Distrikshospitaal en Onverwachtbegraafplaas orde binne hul woongebied handhaaf

LEPHALALE — Die sinkhuise, sonder elektrisiteit of lopende water, wat grens aan Onverwacht, het inwoners lankal vrae laat vra. Waarom sal daar huise opgerig word sonder broodnodige dienste soos elektrisiteit en water?

Aan die een kant word die vernielsugtige dade van vandale by die digbygeleë begraafplaas ondersoek. Baie families is geraak daardeur dat vandale dele van die Muur van Herinnering by die Onverwachtbegraafplaas verwoes het. Gestorwe geliefdes se oorskot is met minagting behandel. Sommige inwoners sê die probleme spruit direk daaruit dat daar ʼn informele nedersetting langs die onbeveiligde begraafplaas is.

   Informele nedersettings word toenemend rondom dorpe gevestig. Baie werkers woon in die week nader aan die dorp as gevolg van vervoerkoste en die ure wat werkers as passasiers spandeer om dorp toe vervoer te word. Hoopvolle werksoekers is ook ‘n faktor wat bydra tot die ontstaan van informele nedersettings. Honger lei mense na dorpe en stede omdat daar geleenthede is – van tuinwerk tot blikkies bymekaar maak.

Mogol Pos verneem dat die Lephalale Munisipaliteit onderneem het om ʼn voorstel te maak om genoemde begraafplaas te beveilig.

Die vraag is watter vraagstukke word opgelos? Die feit bly staan dat daar nie goedkoop verblyf naby die dorp beskikbaar is nie.  

Mogol Pos is ingelig dat ander begraafplase in die omgewing baie goed beveilig is en dat toegang beheer word – wat sou die rede dan wees dat Onverwacht-begraafplaas klaarblyklik die stiefkind is?

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.