Instelling van Leerlingraad — Laerskool Bosveld Primary

 

Me Karin Meyers, Janco von Rönge (hoofseun), Laurissa Pieterse (hoofdogter) en  mnr Louwtjie Pretorius (skoolhoof)
Me Karin Meyers, Janco von Rönge (hoofseun), Laurissa Pieterse (hoofdogter) en
mnr Louwtjie Pretorius (skoolhoof)

Ria Wells
LEPHALALE — Laerskool Bosveld Primary het Maandagaand hulle jaarlikse tradisie voortgesit met die instelling van die nuwe leerlingraad tydens ‘n plegtige geleentheid wat in die skoolsaal plaasgevind het. “Leaders become great, not because of their power, but because of their ability to empower others – John Maxwell”. Dit was maar een van vele inspirende boodskappe aan die nuwe leerlingraad om met hul saam te dra op hul pad van leierskap.
Laurissa Pieterse, hoofdogter 2016, het die opening waargeneem en mnr Louwtjie Pretorius, skoolhoof, het in sy verwelkomingsboodskap die
ouers geprys en gesê dat hulle teenwoordigheid tekenend is van hul ondersteuning aan die skool. Hy het elkeen wat ‘n bydrae lewer tot die skool se sukses en welvaart van harte bedank en aan die leerlingraad gesê dat leierskap in jou hart begin.
Die leerlingraadsbelofte is deur aankondiger, mnr Charlie Brandt, voorgelees waarna die inhuldigingseremonie plaasgevind het. Hy het vir elke leerlingraadslid ‘n spesiale boodskap voorgelees en elkeen het die geleentheid gekry om ‘n kers aan te steek en die belofte te onderteken.
Die hoofseun vir 2016, Janco von Rönge, het die saalverrigtinge met gebed afgesluit waarna almal gesellig verkeer het by die lapa.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.