Inwoners wil self slaggate herstel

Thomas Pavier, jarelange inwoner sê: “Ons soek net teermengsel en sal self die paaie herstel”.

Volgens Thomas help dit nie om vergaderings te hou en die sake te bespreek wat telkens op ʼn doodloopstraat (met slaggate) uitloop nie.

Thomas glo dat praatjies niks verander nie. Néé, dit is dade wat dinge verander. Probleme raak nie met notules opgelos nie.

Hy sê ons dorp is strategies geleë en is die deurgangsroete na Botswana en ander Afrika-lande. Baie deurgangers is toeriste en die algemene beeld van die dorp is allesbehalwe goed en slaggate is maar een van die vele probleme. En vir elke probleem is daar oplossings as daar mense is wat wil help.

Hy sê om slaggate effektief te vul is daar sakkies aangemaakte teermengsel, pikke, grou-ysters, harde besems en ʼn kompakteerder nodig.

Die probleem met die opvul van slaggate is dat gate net met die teermengsel opgevul word en dat werkers dan net ligweg met hul voete die teermengsel vastrap. Die regte manier, sê hy, is om die slaggat met ʼn grou-yster voor te berei en die teermengsel moet dan met ʼn kompakteerder vasgestamp word.

Hy hoor graag of daar nog mense is wat betrokke sal raak in ʼn projek om die slaggate te herstel. Hy sê hy is oortuig dat boere, taxi-eienaars en ander inwoners ook sal help as hulle sien dinge gebeur.

Terwyl Thomas by Mogol Pos se kantore was, het hy Coastal Hire geskakel en hulle het dadelik aangebied om gratis kompakteerders beskikbaar te maak.

Sy voorstel is dat mense hom kontak by 082 873 3908 sodat ʼn klein groepie begin om solank die wiele aan die rol te sit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.