Is Brits geblus?

STELLENBOSCH — Die 41-jarige Rudi Brits wat al ’n geruime tyd in die nuus is oor sy skelmstreke en veral omdat hy vroue teiken, het Vrydag 7 Januarie in die Landdroshof in Stellenbosch verskyn.

Kolonel Deon Beneke, ondersoekbeampte in die saak, het tydens Brits se verskyning en borgaansoek die onderskeie provinsies waar Brits “gewerk” het op ’n landkaart aangedui. Hy het gesê dit is op hierdie aangeduide plekke waar Brits vir hom ’n uitgebreide kriminele rekord opgebou het, insluitende vier arrestasies vir onwettige jag.

Lephalale was een van die dorpe waar Brits verskeie instansies en mense bedrieg en hom onder andere voorgedoen het as professionele jagter en jagondernemer. Brits was ook vir ’n tyd plaaslik op skool.

Kol Beneke het Vrydag in die hof gesê dat geen statutêre of regulatoriese jagliggaam in Suid-Afrika of ander Afrikalande hom erken as ‘n professionele jagter of jagondernemer nie.

Beneke het verduidelik dat Brits se pleitverduideliking, dat hy borg toegestaan moet word om na sy “besighede” om te sien, nie waar is nie. “Hierdie besighede bestaan net op papier. Daar is geen personeel of voertuie daarby betrokke nie,” het hy gesê.

Die saak is uitgestel na Maandag 10 Februarie en die hof het toegestaan dat hy in die Stellenbosch Polisie se aanhoudingselle in aanhouding moes bly om dit makliker te maak om hom Maandag na die hof toe te vervoer. Brits wou egter eerder na die Pollsmoor-gevangenis gaan. Toe sy versoek geweier word, het hy sy kop geskud toe hy die hof verlaat.

Mogol Pos het Dinsdag 11 Januarie telefonies met Kolonel Beneke gepraat, maar hy kon nie veel oor die stand van sake uitbrei nie. Al wat hy op dié stadium kon sê is dat die saak uitgestel is na Vrydag 14 Februarie en Brits was teen druktyd steeds in aanhouding.

Addisionele bron geraadpleeg: Sowetan, Aron Hyman, 8 Februarie 2020

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.