“JA vir leeujag”

Bob Foulkrod en Tienie Bamberger
Bob Foulkrod en Tienie Bamberger

Leoni Kruger
LEPHALALE — Dit het alles begin toe ‘n Amerikaanse tandarts verlede jaar vir Cecil in Zimbabwe geskiet het. Elkeen wat by magte was om ‘n mening uit te spreek oor die jag van leeus het dit op sosiale media en elders uitbasuin.
Tienie Bamberger, eienaar van Warthog Safaris naby Steenbokpan en een van die min jaguitrusters wat wel vanjaar ‘n permit gehad het om leeus te kan jag, het Mogol Pos na sy jagkamp genooi om te verduidelik waaroor die jag van leeus gaan, wat die regte manier is om dit te doen en die geweldige finansiële inspuiting wat dit vir die land beteken indien ‘n buitelandse jagter ‘n leeu jag.
Mogol Pos het ook die voorreg gehad om Bob Foulkrod te ontmoet. Hy is bekend as een van die mees ervare jagters in die wêreld en ‘n groot voorstander van etiese en verantwoordelike jagprakryke, juis om die voortbestaan van wilde diere te verseker.
Tienie sê die groot kontroversie rondom jag, en veral geblikte jag, word uit verband geruk. Mense se emosies oorheers hulle denke en laat hulle dinge kwytraak wat nie realisties is nie. In die Waterberg-area is jag en toerisme die tweede grootste inkomste naas die mynbedryf.
“Natuurlik het die jag van leeus sekere minimum vereistes, onder andere die grootte van die grond, ekonomiese impakstudies, ens. – daar is ‘n eindelose lys” sê Tienie.
Volgens Tienie is die minimum grootte van die grond waarop leeus loop ‘n 1 000 ha, maar die minimum-vereistes vir die grootte van die grond waar ander wildspesies loop is baie laer.
“Doodmaak is doodmaak en die jagbesigheid is ‘n besigheid wat daaroor gaan om diere dood te maak sodat die jagbedryf kan oorleef. Dit gaan oor trofeejag en die oes van ouer, post-produktiewe volgroeide diere” sê hy. Hulle jag selektief en haal net leeus (mannetjies en wyfies) af wat nie meer kan voortplant nie en dus post-produktief is.
Volgens Tienie was hy, sover sy kennis strek, tot dusver vanjaar die enigste jaguitruster in die Thabazimbi- en Lephalale-omgewing wat wettig leeus gejag het. Daardeur dra hy ook baie by tot die sosiale opheffing van die plaaslike gemeenskap. Hulle skenk onder andere vleis en ander benodigdhede aan plaaslike gemeenskappe. Buitelandse jagters is meesal nie geïnteresseerd in die vleis nie.
Tydens Mogol Pos se besoek was Bob pas terug van ‘n leeujag – hy het in totaal sewe dae lank te voet in die veld spandeer om die leeu te kry. ‘n Volwasse, uitgegroeide leeu wat nie meer kan bydra tot ‘n nageslag nie.
Bob is ‘n groot voorstander van jag en hy is tans besig met die verfilming van ‘n dokumentêr oor spesifiek die jag van leeus. Hy probeer in die dokumentêr vasvang wat die sosiale en ekonomiese omvang vir SA is wanneer net een leeu deur ‘n buitelandse jagter gejag word. Dit beteken die jagter koop ‘n retoer vliegtuigkaartjie, hy bekom ‘n permit om wettig te jag en koop aandenkings en juwele en selfs diamante ens, hy betaal belastingfooie en daardie geld word teruggeploeg in bewaring. Een leeu verseker meer as $100 000 se inkomste vir die land.
Tienie is op die raad van die South African Preditor Association (SAPA) en hy sê daar is ‘n groot hoeveelheid wette en reëls waaraan hulle moet voldoen voordat ‘n jagplaas akkreditasie ontvang. Elkeen moet voldoen aan die regte vereistes vir teling, die aanhou en die jag van leeus, die inspeksie van teelfasiliteite en eers wanneer jy aan al hierdie fasiliteite voldoen het, reik die regering ‘n permit uit wat jou toelaat om ‘n leeu te jag. Tienie beklemtoon dat SAPA selfs nog strenger reëls het waaraan voldoen moet word as wat die regering daarstel en elke provinsie het ‘n ander stel reëls.
SAPA besoek die jagarea om die habitat te analiseer, die prooibasis, omheining, beskikbare kos vir die diere en akkommodasie vir die jagter.
Tienie het in 1998 begin met grond wat glad nie geskik was vir jag nie, aangesien daar voorheen met vee geboer is wat die grond totaal uitgeput het. Deur trofeejag het hy dit mettertyd reggekry om die grond te laat akkumuleer tot wat dit vandag is. Dit is hervestig tot ‘n jagplaas met jagveld en ‘n geskikte habitat waar daar vandag meer as 25 wildspesies aangehou word.
Daar is glad nie meer vee op die plaas nie asook geen binne-omheining nie. Die wild kan vrylik rondbeweeg en daar is boonop 30 werkers wat nie werk sou gehad het as dit nie vir dié wildplaas en jag is nie.
Die habitat word hervestig, ontbossing word gedoen en indringerplantspesies word uitgehaal. Deur die habitat te herstel en te hervestig het tot gevolg dat daar ook ‘n habitat geskep word vir verkleurmannetjies, akkedisse, slange, skilpaaie, ens. Voorheen was daar geen ruimte vir wilde diere nie, want dit was ‘n bedreiging vir die vee, maar deur middel van jag is die wildlewe hervestig en ‘n groot voordeel vir SA.
“As dit nie vir jag was nie, sou die ekosisteem nie herstel word nie” sê hy.
Beide Tienie en Bob meen die nuwe neiging waar leeus doodgemaak en hulle liggaamsdele verwyder word is ‘n direkte gevolg daarvan dat die jag van leeus die laaste jaar geweldig beperk is nadat die VSA ‘n verbod geplaas het op opgestopte jagtrofeë wat jagters na ‘n jagtog in SA kon terugneem.
Hy is van mening dat plaaswerkers of die plaaslike gemeenskappe baatgevind het daarby as byvoorbeeld leeus gejag word, want hulle het gewoonlik die liggaamsdele en vleis gekry. Die vet is ook gewild onder plaaslike gemeenskappe.
Die laaste jaar het die vergiftiging van leeus en die verwydering van hulle koppe en liggaamsdele egter hoofopskrifte in die media behaal.
Volgens Sakkie Lourens, ‘n lid van die Heritage Protection Group (HPG), ‘n nie-winsgewende organisasie wat hulle toespits op die oplossing van geweldsmisdade en stropings, sê daar is die afgelope twee weke ten minste 12 leeus in Limpopo vergiftig en hulle koppe en liggaamsdele verwyder. Hy sê die leeus se liggaamsdele het niks met die Oosterse mark te doen nie, want ‘n leeukarkas kan daar goedkoop bekom word. Hulle vermoed dit word deur plaaslike mense aangewend, waarskynlik vir moetie. Dit word egter nog ondersoek.
Ook Tienie meen dit is waarskynlik iets wat jare gebeur het sonder dat enigiemand regtig daarvan bewus was, maar dit was nie nodig om die leeus te vergiftig nie, want leeus is wettig gejag as trofeediere.
Tienie beklemtoon verder dat in gevalle van trofeejag word elke deel van die dier benut. Kliënte maak vir hulle aandenkings, soos hulle laat die dier opstop by ‘n plaaslike taksidermis en hulle laat maak selfs juwele om saam huis toe te neem.
Intussen het verskeie instansies en veral wildboere hulle verligting uitgespreek dat daar tydens die konvensie oor internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) op die COP17-beraad besluit is om die uitvoer van leeubene goed te keur. Die doel van Cites is om op internasionale vlak te verseker dat die handel in diere (en plante) nie bydra tot die uitsterf van ‘n spesie nie.
Daar is ook tydens die kongres besluit om leeus in Suid-Afrika op ’n bylaag 2 te hou wat beteken leeu-jagtogte kan steeds plaasvind, maar daar moet binne die kwota gehou word en die nodige permitte moet verkry word.
“Ons sal hierdie ding reg moet bestuur. Haal die emosie uit die saak en sit die feite op die tafel. Want na alles – watter verskil maak dit of jy ‘n koedoe skiet of ‘n leeu. Jag is jag. En die land se ekonomie kan doen met ‘n inspuiting” sê Tienie.
Volgens ‘n berig van Jaco Nel in Rapport, 9 Oktober 2016, kan ‘n wildboer tussen R200 000 en R900 000 per leeu kry wanneer die leeu gejag word, terwyl die bene van ‘n leeukarkas verkoop word vir R35 000 sonder die kop en R40 000 met die kop.
Volgens die leeutelersvereniging raak die veiligheid van leeus ‘n groot bekommernis en hulle maan alle lede om ekstra beveiliging toe te pas en paraat te wees.
SAPA onderneem om ‘n beloning uit te gee aan enigiemand wat inligting kan verskaf wat kan lei tot die positiewe arrestasie rakende die vergiftiging van leeus en die verwydering van liggaamsdele.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.