Jade se ma is die beste!

Diane en haar Jade

Leoni Kruger
LEPHALALE — Jade Kemp du Toit (10), ‘n graad 4-leerder van Laerskool Bosveld Primary, is onlangs aangewys as wenner van die eerste aanlyn-Moedersdagkompetisie “My Mom is the Best” aangebied deur Boomerang. Kinders kon vir die kompetisie inskryf deur ‘n eenvoudige sin te voltooi – “Ek is lief vir my ma, want….”
Jade se wen-antwoord was: “My ma is die beste, want sy bak vir my pannekoeke, sy kyk hoe ek rugby speel en fiets ry en sy sny my hare in enige styl waarvan ek hou – net sodat ek “cool” kan wees. My ma is ook my pa, so ek sien myself as baie bevoorreg”.
Jade se wenprys is ‘n spesiale viernagbootreis vir vier mense langs die Suid-Afrikaanse kus op die MSC Cruises.
*Diane du Toit, Jade se ma, sê sy kan nie eers begin om te beskryf hoe opgewonde hulle is dat Jade gewen het nie. “Jade is die beste seun waarvoor ‘n ma ooit kan vra. Hy het my reeds op Moedersdag bederf met pannekoeke wat hy self gemaak het” sê sy.
Jade het vir Mogol Pos gesê hy is baie dankbaar teenoor Boomerang wat vir hom die geleentheid gee om sy ma op ‘n bootreis te neem. “Sy verdien dit, want sy werk baie hard om vir óns te sorg” sê hy.
Die gelukkige drie wat Jade se prys saam met hom gaan deel is Diana en haar suster, Jeanette de la Rey en ‘n vriendin van Jade, Wilmi van Rooyen. As alles volgens plan verloop vertrek dié vierstuks op 27 November vanjaar op hulle vierdagavontuur.
*Diane is ‘n haarkapper by A Cut Above by Hanettes Nails in Lephalale Square.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.