Jan en Meisie – saam swaar, saam lekker

Jan en Meisie op hul troudag in 1963
Jan en Meisie in hul woonstel by die SAVF Maroelaoord

Ria Wells
LEPHALALE — Ek loop my vas in ‘n pragtige ruiker in Jan en Meisie Fynaut se klein woonkamer by die SAVF Maroelaoord waar hulle vir die afgelope ses jaar bly. “Vir ons huweliksherdenking”, sê Jan. “Na 54 jaar kom ons nog heel goed klaar al is ek somtyds ‘n bietjie beneuk”. Meisie lag maar net en sê sy is die ernstige een en steur haar nie veel aan die immer-laggende Jan se streke nie.
Johannes Marinus Fredericus Fynaut, oftewel oom Jan, is op 22 Februarie 1936 in die stad Tilburg in die suidelike provinsie van Noord-Brabant in Nederland gebore. Een van sewe kinders.
Op agtjarige ouderdom bevind Jan hom midde-in die Tweede Wêreldoorlog waar hy en sy gesin in die middelste van vyf skakelhuise regoor die Rooms Katolieke kerk woon. Jan onthou goed van die aand toe hulle ‘n geweldige dreuning van vliegtuie hoor en sy pa sê: “Hulle gaan nou skiet”. Hy beveel toe die gesin om almal na die veiligheid van die kelder te gaan, want hy vermoed die kerk gaan gebombardeer word. Net nadat sy pa ‘n gebed gedoen het hoor hulle ‘n verskriklike slag en hoe alles bo hulle koppe inmekaarval. Angswekkende oomblikke. Jan, die kleinste van postuur, moes later deur die keldervenster na buite om hulp te gaan soek en te kyk wat die situasie met sy ouma en ander familie is wat ook in van die skakelhuise woon.
Genade onbeskryflik groot. Net hulle huis was in puin. “Gelyk met die grond”’ sê Jan. Nie een van die ander vier huise was beskadig nie. En die hele gesin is veilig.
In 1955 pak Jan sy tassie en kom Suid-Afrika toe. Hoekom? “Almal vra en ek weet nou nog nie” lag hy. Maar sy avontuurlustige geaardheid het hom laat reageer op ‘n advertensie waar mense vir die goudmyne in Suid-Afrika gesoek word. Jan se paadjie loop egter ver en wyd in die sonnige Suid-Afrika. Goudmyne, asbesmyne, padwerke, Simba-skyfiesfabriek, busbestuurder vir munisipale busse. Virginia, City Deep, Alberton, Johannesburg. Jan slaan ook ‘n klein rolletjie los as polisieman in die fliek “Stadig oor die klippe” waarin hy vir Al Debbo moes ‘arresteer’. En so gaan dit aan … “Ek het baie geleer, alles geniet en baie mense leer ken”.
In Johannesburg ontmoet hy die mooie Meisie Lewis en laat nie gras onder sy voete groei nie. Na net vier maande trou hulle op 25 Mei 1963 en na sewentien jaar van getroude lewe skenk Meisie geboorte aan hul bondeltjie vreugde, Francisca. Meisie is lief vir handwerk, doen klopdanse en leer haarself klavier speel. Die lewe is ‘n lied.
Die 81-jarige Jan werk vir die afgelope vyf jaar by One Stop Fruit in Onverwacht. Hy stap elke dag vier keer heen en weer – vanaf die oord tot by die winkel. Vroegoggend, terug vir middagete, weer winkel toe en saans huis toe. Maar dit is nie waar dit stop nie.
Jan besoek die Mogolklub se gimnasium getrou van Maandag- tot Vrydagaand vir ‘n uur se oefening. Sy tweede liefde is fietsry. “Jy weet in Holland word jy met ‘n fiets in die hand gebore. Daar het hulle mos spesiale sypaadjies waar jy met ‘n fiets kan ry”. Hy ry oor naweke ongeveer 40 kilometer vir sy plesier. “Dis goeie oefening, ontspannend en mens moet na jouself kyk, want niemand anders sal nie”.
Te midde van swaar dae soos die oorlog wat almal geraak het en ‘n gesukkel om kop bo water te hou het Jan geleer om positief te leef. “As die een se skoene te klein is, dan pas die ander een s’n”. Geleer om lekker saam met swaar en swaar saam met lekker te hê. Maar die swaarste is Kersfees “wanneer families bymekaar kuier”, sê hy. Al sy familie is nog in Holland en net een van sy broers is oorlede. Jan wat goeie Afrikaans praat slaan oor na Hollands: “We hebben gezongen, we hebben uitgegaan en had heerlijke plezier gehad en ontzettend veel gelachen”. Hy wys vir my ‘n geraamde foto van sy Hollandse gesin teen die sitkamermuur … en die foto van hom en Meisie op hul troudag.
Jan sê Pierre en Sandra van One Stop Fruit is absoluut wonderlik goed vir hom en hy vra dat Mogol Pos dié twee spesiale mense namens hom moet bedank vir al hulle goedheid. “Wie weet, sonder hulle het ek dalk op straat gesit” sê hy.
Die les? Leef elke dag voluit en positief. Leef dankbaar en wees vriendelik. Net soos oom Jan …

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.