Jana Grobler — positiewe vegter, 23 Februarie 1979 – 1 Julie 2018

Ek het in Oktober 2015 ʼn onderhoud met Jana Grobler gehad. Sy was een van die vele plaaslike vroue wat op daardie stadium met borskanker gediagnoseer was en met die oog op Borskankermaand was sy bereid om haar ervaring met Mogol Pos te deel.

Die knoppie wat sy in 2011 in haar bors ontdek het, was aanvanklik deur dokters beskryf as “niks om oor bekommerd te wees nie.” Nadat die knoppie groter geword het, het ʼn mammogram en biopsie bevestig dat dit kwaadaardig was. Die kanker het op daardie stadium reeds na kliere onder haar arms versprei. Na verskeie chemoterapiesessies is die kliere in April 2013 verwyder.

Jana was vanaf April 2013 tot Julie 2014 in remissie.

Met een van haar gereelde ondersoeke is daar ses kolle op haar lewer opgemerk. Nog chemoterapiesessies het gevolg. Die kanker het later na haar longe versprei. Sy het geleer om saam met kanker te leef, maar sy het nooit moed opgegee nie.

Jana het Saterdag 30 Junie haar bewussyn verloor en sy is Sondagoggend 1 Julie oorlede. Sy het haar kankerstryd verloor.

Na ons gesprek in 2015 het ek Jana gereeld raakgeloop. Sy het altyd gesê dit gaan goed, ten spyte van die aftakeling van die chemo en die geweldige newe-effekte daarvan.

Ek het soveel kere gedink aan wat sy vir my gesê het: “Moet nooit moed verloor nie – mens is so geneig om op die dinge te konsentreer wat jy nié het nie. Konsentreer liefs op dit wat jy wél het en leef elke dag voluit. Sien elke dag as genade van Bo. Die Here dra mens deur alles”. Haar lewe was ʼn sprekende voorbeeld van hoop, deursettingsvermoë, geloof en positiwiteit. En sy was régtig siek!

Marika van Zyl van KANSA wat my die eerste keer aan Jana voorgestel het, sê: “Jana was ʼn baie moedige mens en altyd positief. Sy het baie naby aan die Here geleef en tot op die einde geglimlag. Ek sal haar altyd onthou as ʼn positiewe, vriendelike mens wat altyd bereid was om ander te help”.

Haar skoonma, Trudie, beskryf Jana baie raak: “Vroue word dikwels met blomme vergelyk. Ons Jana-kind was nie net ʼn enkele blom nie. Sy was ʼn baie groot ruiker. Sy was ʼn roos wat met haar soet-sagte geur die hele vertrek gevul het. Sy was ʼn sonneblom wat altyd haar gesig na die lig gekeer het, die sonstrale opgevang en dit teruggekaats het na almal wat met haar in aanraking gekom het.

Sy was ʼn magrietjie wat, in haar vroulikheid, taai en gehard was. Sy het verbete teen kanker geveg.

Sy was ʼn gesiggie. Net as jy dink sy het op haar mooiste gelyk, verras sy jou. Die sterk, maar tog broos varings wat die ruiker aangevul het, my ou Lange. Oral in die ruiker is vergeet-my-nietjies. Ons sal haar nooit vergeet nie. Sy was al dié ‘blomme’ omdat die grond waarin sy gegroei het, met liefdevolle hande (haar ouers, Neels en Anne-Marie) bewerk is.”

KANSA Wes-Gauteng het die volgende boodskap op haar Facebookblad geplaas: “It saddens us at CANSA to share the loss of one of our Global Heroes of Hope, Jana Grobler. She was such an inspiration to her fellow Survivors at CANSA Relay for Life Lephalale, where she served as the chairperson. Jana was always ready to help at our support groups and any other CANSA events.

May you rest in peace, Jana. We salute and thank you. Our deepest condolences to Jana’s loved ones and our thoughts are with them during this difficult time.

The interaction with fellow fighters and survivors is inspirational. The kindness and support so many people affected by cancer is priceless. Being a positive person, I like to inspire. I would also like to tell people to always have hope and live life to the fullest.”

Jana en haar man, Francois, het die afgelope sewe jaar in Lephalale gewoon en hulle sou op 2 Oktober vanjaar 13 jaar getroud wees.

Haar roudiens word Vrydag 6 Julie om 11:00 gehou vanuit die NG Kerk Birchley-Noord in Kempton Park.

Jana laat haar man Francois, haar ma en pa Anna-Marie en Neels Meyer, haar skoonouers Trudie en Adriaan van den Berg, haar suster en swaer Helani en Lukas Barnard en hulle twee kinders, haar swaer en skoonsus Paul en Isabel, hulle kinders Arnandt en Zèanri Grobler en haar talle vriende en KANSA-familie na.

“Rus sag Jana, jou wedloop is voltooi.”

— Leoni Kruger

(Jana is Dinsdag 12 Junie by Sungardens Hospice opgeneem en die familie bedank al die personeel wat so mooi na haar gekyk het — Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.