Jandré Stanz 30 November 2004 – 24 November 2020

“Dit is met skok, hartseer en totale ongeloof dat Hoërskool Ellisras die gemeenskap, ouers en mede-Rassies meedeel van die afsterwe van die 15-jarige Jandré Stanz, ’n graad 9-leerder van EHS.

“Hoe groet ‘n mens ’n kind? “Ons vertroos onsself met die woorde van Prediker: Elke ding het sy vaste tyd, want hieruit kry ons die versekering dat God in beheer is en Sy tydsberekening is volmaak.

“Ons innige meegevoel aan sy ouers, familie en vriende in hierdie hartseer tyd.

“Mag elkeen van julle krag en vertroosting van ons Hemelse Vader ontvang,” sê EHS se skoolhoof, Adriaan Joubert namens die personeel, mede-Rassies en die beheerliggaam.

Dawie Grobbelaar, bergfietsry-afrigter, het Jandré soos volg beskryf: “Altyd vriendelik – ‘smile’ altyd en groet altyd. “Jandré was lid van Hoërskool Ellisras se bergfietsryspan en só sal almal wat vir Jandré geken het sy laggende blou oë onthou.

“Jandré, die Rassies groet jou.”
Jandré het Dinsdagoggend 24 November net na 07:00 met sy fiets by die skool opgedaag en by die pawiljoen op die rugbyveld by sy maats aangesluit. (Die leerders kom gewoonlik by die sportgronde bymekaar voordat die skool om 07:30 open.)

Volgens sy maats het hy vir water gevra en nadat hy dit gedrink het, het hy by die pawiljoen inmekaargesak. Hulle het sy ouers en van die onderwysers gebel en ’n ambulans is na die toneel ontbied. Paramedici het lank probeer om hom te help maar hy is later op die toneel dood verklaar.

Die oorsaak van sy dood kon nie teen druktyd bevestig word nie en ’n nadoodse ondersoek sal dit eers later bevestig.

Jandré se ouers, Elmarie en Henk Stanz, en Adriaan Joubert bedank die dokters en personeel van Mediclinic Lephalale, die paramedici van ER24, en die predikante asook beraders wat so vinnig opgetree het om die mede-Rassies en Jandré se ouers by te staan.

Mogol Pos het gepoog om me HP Mabodja, Limpopo departement van onderwys se kringbestuurder, genader vir ’n boodskap van medelye, maar sy was teen druktyd nie beskikbaar nie.

(Mogol Pos wens Jandré se ouers en almal wat vir hom lief was baie sterkte toe. Mag julle met genade en vertroosting omring word – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.