Janie is ’n yster

LEPHALALE — Jannie Snyders (18) het Vrydag 5 Januarie van oor tot oor geglimlag toe hy sy matriekuitslae by Hoërskool Ellisras gaan haal het. Met goeie rede.
ʼn Paar jaar gelede was die hoop skraal dat Jannie op 18-jarige ouderdom saam met sy klasmaats matriek sou slaag.
Jannie was op 15 Mei 2015 in ʼn kritieke toestand in die Muelmed Hospitaal in Pretoria opgeneem nadat die mikrovliegtuig waarin hy en sy oom, Wynand, gevlieg het, langs die D311 (Shongoane/Seleka-pad) neergestort het. Wynand het aan kopbeserings beswyk.
Jannie was twee weke lank in ʼn geïnduseerde koma in Muelmed waarna sy herstelpad voorgelê het.
Mogol Pos het Vrydag met twee van Jannie se onderwysers by EHS gepraat en volgens hulle het Jannie nooit een oomblik ophou probeer nie. “Hy het aangehou en uitgehou en harder probeer. Hy is ʼn voorbeeld van iemand wat die lewe doelgerig leef,” sê hulle.
Jannie het groot toekomsplanne. Hy sluit op 1 Februarie vanjaar aan by Mooikrans Equus in Ermelo waar hy ʼn landboukursus gaan doen. Hy stel veral belang in vee- en gewaskunde.
Na afloop van sy jaarkursus beplan hy om die buitelandse mark te gaan beproef.
Mogol Pos se beste wense vergesel Jannie op sy toekomspad.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.