Johan Putter

11 April 1948 – 21 Julie 2017

Johan Putter is aan menige bosvelder bekend. Hy was vir jare in die konstruk-siebedryf in Lephalale en later faktotum by Hoërskool Ellisras. Baie mense sal hom egter onthou as die man met die rooi lorrie wat die lekkerste waatlemoene verkoop het.
Aan die einde van 2013 het Johan en Marie, sy vrou, Centurion toe verhuis. Sy gesondheid het stelselmatig agteruitgegaan en hy was die laaste jaar baie siek ná ‘n beroerte-aanval.
Johan en Marie het op 9 Julie vir familie in Lephalale kom kuier en op 20 Julie het Johan egter so siek geword dat hy in Mediclinic Lephalale opgeneem is. Johan is Vrydagaand 21 Julie om 19:45 oorlede.
Hy laat vir Marie, drie kinders en drie kleinkinders agter.
Johan sal onthou word as die groot man met die groot hart. Marie sê: “Ek verloor ‘n eggenoot, maar bo alles ‘n wonderlike vriend. Hy was my steunpilaar. Hy was my alles.”
Marie bedank almal wat deur die jare kontak behou het met die gesin en vir almal se ondersteuning. Sy bedank ook vir Neels Barnardo van AVBOB Begrafnisdienste.
Die gedenkdiens vind Saterdag 29 Julie om 11:00 plaas vanuit die PPK Lighuis, h/v Blouhaak/Diepkuil en Bloukweekstraat, Onverwacht.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.