Juke brand, verdagte weg

Dié Nissan Juke is deur die verdagte aan die brand gesteek nadat die voertuig vermoedelik sonder brandstof gaan staan het
Dié Nissan Juke is deur die verdagte aan die brand gesteek nadat die voertuig vermoedelik sonder brandstof gaan staan het

Leoni Kruger
LEPHALALE — Sarie Craucamp se wit Nissan Juke is Saterdag rondom 12:00 in Peerboomstraat in Onverwacht op die sypaadjie gesteel. Sarie sê sy het seker 20 minute in die woonkamer gesit toe sê haar kleinseun vir haar die Juke is weg. Sy het eers gedink hy maak ‘n grap, maar toe sy uitstap het sy gesien haar “aftreekar” is weg. Sy sê die voertuig se deure was vir seker gesluit, want sy voel altyd of die deure gesluit is en die sleutel was in haar handsak langs haar stoel waar sy gesit het.
Sarina Potgieter, by wie sy gekuier het, het die polisie probeer skakel, maar volgens haar het hulle nie die telefoon beantwoord by die aanklagkantoor nie. Hulle het om die beurt probeer skakel, met geen sukses. A.o. Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, het vir Mogol Pos gesê die polisie is ontevrede omdat die dienskamer en GPF eerste van die diefstal ingelig is voordat hulle die polisie laat weet het.
Sarina het toe vir Thys Eloff, voorsitter van die GPF geskakel en dit is op die noodradio’s afgekondig dat die gemeenskap op die uitkyk moet wees vir die voertuig met registrasienommer CNB 383L.
Rondom 13:33 word daar aangekondig dat daar ‘n veldbrand op die Visgatpad, naby Rhinoland Safari se hoofhek, ontstaan het as gevolg van ‘n voertuig wat brand.
By nadere ondersoek is vasgestel dat dit die gesteelde Nissan Juke is wat vermoedelik aan die brand gesteek is. Lede van die TOOG gemeenskap en die GPF het hulle na die toneel gehaas en spore gesien wat daarop dui dat die bestuurder van die voertuig deur ‘n viertrekvoertuig opgelaai is. Ander spore dui aan dat die verdagte moontlik ‘n paar tree weggehardloop het.
Sarie sê daar was nie baie brandstof in die voertuig nie, so die moontlikheid bestaan dat die verdagte sonder brandstof gaan staan en toe die voertuig aan die brand gesteek het om bewyse te vernietig.
Sarie bedank Thys Eloff en al die lede van die GPF wat haar bygestaan en gehelp het. Sy sê dit beteken vir haar baie. “Dankie is ‘n klein woord maar dis al wat ek het om te gee,” sê sy.
Sy bedank ook vir Sarina Potgieter wat haar onmiddellik gehelp het en die polisie en GPF geskakel het. “Sy het dadelik beheer geneem en alles uitgesorteer” sê Sarie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.