Kalahari Red Klub — Nasionale veilingsverslag 2017

Wholesome Auctions het Saterdag 25 Februarie die Kalahari Red Klub se jaarlikse nasionale veiling by Conrad Herbst Kleinveesentrum aangebied met Corne du Plessis van Lephalale as afslaer.
Die Kalahari Reds op veiling was van hoogstaande gehalte en die ras het groot belangstelling gelok. Die opkoms was baie goed ten spyte van die reënweer. Kopers van sover as Botswana en Saoedi-Arabië het opgedaag en daar was van vroeg af ‘n gewoel van mense tussen die krale.
Verkopers is gelukkig met die goeie pryse wat behaal is en volgens Corne moes hy en die helpers op hulle tone bly met al die hande wat gelyk in die lug was.
‘n Hoogste prys van R19 500 is behaal vir ‘n kudderam met verkoper Anton en Rickus Bothma van Vivo en koper Dick Venter namens PJ Nienaber.
Die duurste ooie is beide verkoop deur Thabo de Klerk van Pearston in die Oos-Kaap. Hy het ‘n ooi met ramlam verkoop vir R14 000 en ‘n stoetooi vir R12 500.
‘n Jong 12-jarige boer, Henco Smith, was saam met sy oupa en ouma Slabbert by die veiling. Hy boer naweke saam met hulle op Bronkhorstspruit en volgens sy ouma, Naomi, leef hy vir naweke saam met sy Kalahari Reds. Hy het ‘n oog vir ‘n goeie bok, maar kon net nie bykom by Jacques Engelbrecht van Mopani Kalahari Red stoet se reserweprys nie. Jacques het homself toe bedink en die stoetooi vir R10 000 aan Henco Smith verkoop.
Die totale omset van die veiling was R433 800 op 67 diere wat verkoop is met ‘n gemiddelde prys van R6 623.88 per dier.
Wholesome Afslaers en die Kalahari Red Klub bedank almal wat bygedra het tot die sukses van die dag.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.