Kanker is oes van siele

Die dames het heerlik gekuier in Marieta Eckard se lushof; Esme Potgieter
Die dames het heerlik gekuier in Marieta Eckard se lushof; Esme Potgieter

Leoni Kruger
LEPHALALE — VLU Skemertak en Ellisrastak het Saterdag 16 April ‘n Herfstee ten bate van KANSA in Marieta Eckard se tuin net buite die dorp aangebied. Die keurig gedekte tafels onder die bome in die sprokiestuin was ‘n prentjie om te raam.
Die gasspreker van die geleentheid, Esme Potgieter, het haar besondere boodskap al die pad van Jeffreysbaai af gebring. Haar man, Fanie, het verlede jaar een oggend in November opgestaan en gesê sy nier is seer. Hy is dieselfde week gediagnoseer met twee tipes bloedkanker en die hermatoloog het gesê Fanie sou net drie weke leef. Op die einde het Esme die pad vir 109 dae saam met Fanie in die onkologie-afdeling gestap.
Die kanker het later na sy brein versprei, maar sy het steeds nie ophou glo, hoop en bid dat hy volkome sal herstel nie. Twee weke voor sy dood sê Fanie vir haar “whether I live or die, I want to celebrate life”.
So beplan hulle ‘n groot “celebration” vir Fanie se lewe vir Paasnaweek. Esme sê God het egter anders beskik en Fanie is op 23 Februarie vanjaar oorlede. Net voor sy dood het sy vir hom hulle troudagliedjie gesing en hy het, so swak soos wat hy was, probeer saamsing. “Ek het die video op my Facebook-blad geplaas en daarvan vergeet – net om later te besef dat ongeveer 33 000 mense wêreldwyd daarna gekyk het” sê sy.
Sy het die vraag gevra – “wat laat vreemde mense na ‘n video kyk van mense wat hulle glad nie ken nie binne ‘n situasie waarvan hulle niks weet nie?” Haar gevolgtrekking was dat mense liefgehê wil word en wil liefhê.
Esmé sê alhoewel sy God gesmeek het om Fanie nie te laat sterf nie, het Hy hom wel laat sterf. Dit kon haar baie maklik téén God laat draai het, maar sy het besef ‘n kankerpad is ook ‘n pad van “siele oes” vir God.
Daarom weet sy nou dat mens tyd moet maak vir mekaar – “jy weet letterlik nie hoe en tot wanneer jy gaan leef nie en wanneer jy regtig siek is, maak niks in dié lewe meer saak nie” het sy afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.