Kanker nie jou maat nie

LEPHALALE — Mogol Pos het in Oktober, Borskankermaand, onderhoude gevoer met lesers wat kanker gehad het en dit oorwin het. Van hulle is steeds op behandeling, ander is in remissie. Joey Roos, ’n jarelange inwoner van Lephalale, wou egter ook haar ervaring van kanker met lesers deel. Hier is haar storie:

Joey Roos

“Kanker is nie jou maat nie. Ek is Joey Roos, vanaf 1981 ’n inwoner van Lephalale – dis altesaam 37 jaar. Ek is 70 jaar oud en beskou myself as ’n kankerwenner.

Ek het reeds in 2014 die snaakse brandpyne aan die sykant van my linkerbors gevoel. Ek het eers gedink dit is hormoonversteurings en hormoonaanvullings geneem. Die brandpyn was met tye baie sterk en dan het ek vir dae lank nie daarvan geweet nie. In 2015 was dit ’n gereelde ding en ek het dit met my dokter bespreek. Ek was nogal bang vir die mammogram omdat ek gehoor het dit is baie seer en dat jy, indien jy nie kanker het nie, wel kanker kan kry van die mammogram.

Dis loutere bog! Ek is na die Wilgers Consortium Centre en die mammogram was glad nie so skrikwekkend nie. Hulle werk baie mooi met ’n mens en dis net so tien tellings lank bietjie gevoelig. Dis al. Albei borste word gedoen.

Indien daar fout is, soos in my geval, word daar dadelik ’n biopsie gedoen. Die area waar die knop is word verdoof en ’n stukkie van die knop word herwin vir ontleding. Dit was glad nie vir my so erg nie, die dokters weet wat hulle doen. Die uitslae was binne ’n week by ’n dokter by Die Wilgers Hospitaal en ek het hom gaan sien sodat die nodige behandeling bespreek kan word.

Die knop in my bors was so groot soos my duim met vertakkings. Die dokter se mening was dat dit dadelik verwyder moet word. Daar was twee opsies. Die een was om die linkerbors onmiddellik geheel en al te verwyder, so ook die limfkliere onder die arm (oksel) of om dit oop te maak en alles, insluitend kliere, te verwyder wat met die blote oog gesien kan word. In dié geval sou ek beide bestraling en chemoterapie moes kry, net in geval iets agtergebly het.

Ek het die eerste opsie gekies – die mastektomie. Na die operasie, ek was nog in die hospitaal, is ek gestuur vir ’n algehele skelet-radiografie. Dit is om jou skelet te ondersoek vir moontlike soorte beenkanker. Daar was gelukkig nie ’n teken daarvan nie.

Ek is na die onkologie-afdeling en is deur dr Van Zyl ondersoek. Hy het wel aanbeveel dat ek chemo moet kry vir die wis en die onwis. Ek was so ontsteld en wou weet waarom het ek dan nou ’n mastektomie gehad en alles gedoen wat ek moontlik kon, en nou moet ek in elk geval chemoterapie kry?

Die ontvangsdame het my gehoor en genoem dat dit jou keuse is of jy dit wil doen of nie. Dit is nie verpligtend nie. Jy is ook geregtig op ’n tweede opinie, dis jou keuse.

Ek het besluit om nie chemoterapie te kry nie en dit is so op my lêer aangeteken. Ek het volgens my mening die nodige gedoen en wou nie toelaat dat enigeen gifstof (chemo) in my are pomp nie.

Ek was op daardie stadium 67 jaar oud, my immuunstelsel is nie meer na wense nie. Hoe moet my liggaam dus veg teen daardie gifstof? Gelukkig het die Vader vir my genoeg verstand gegee om my eie besluite te kan neem. As ek moet sterf as gevolg van kanker dan sal dit so wees.

Die meeste kankerpasiënte sterf as gevolg van die chemo-behandelings en dies meer wat vir hulle gevoer word, omdat hulle liggame so afgetakel word.

Vandat hulle die behandeling kry is hulle selde of ooit gesond of lus vir die lewe. Die bestraling het ek verneem laat die lelikste donkerbruin tot swart brandkolle.

Ek het aan die begin ook gewonder of ek die regte besluit geneem het. Ek glo egter ek was deur ’n Hoër Hand gelei.

Van tyd tot tyd, veral wanneer mens ouer word, kry jy oral in jou liggaam onverklaarbare pyne en dan wonder mens tog – is dit waar die monster nou weer gaan uitslaan?

Dis drie jaar later en ek is nie spyt nie.

Kanker is vir my soos ’n groottoon wat nerfaf gestamp is, dis baie seer en dit maak jou kruppel, maar dis van verbygaande aard. Jy sal en kan weer herstel, glo en bid vir genesing.

Dit bring jou nader aan God en laat jou met ander oë na jouself en ander mense kyk. Ek het kalmer geword en help ander waar ek kan.

Ek het kanker oorwin deur alles uit te sny. Baie ander kankerpasiënte kry chemo en dit is dalk weer ’n sneller vir ander skete.

Is chemo regtig die antwoord? Wanneer jy met kanker gediagnoseer word, skrik jy jou koud en jou kop sê vir jou dit is die enigste uitweg. Dit is nie so nie. Daar is net een geneesheer – ons Vader in die Hemel.”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.