Kansa Relay for Life

LEPHALALE — Alhoewel daar aansienlik minder mense was wat vanjaar die Kansa Relay for Life (RfL) op Saterdag 9 September bygewoon het, was die boodskap sterker as ooit tevore.
Die aflos vir die LEWE is met oorgawe gevier en elkeen wat daar was het ook met oorgawe gestap, want die hart van Kansa se RfL is die heel beste geleentheid om die lewe van kanker-“survivors” te vier en hulde te bring aan dié wat as gevolg van kanker nie meer met ons is nie. Dit was wel verblydend om die hoeveelheid jong mense te sien deelneem aan vanjaar se RfL.
Die jaarlikse Luminaria-geleentheid was soos altyd aangrypend waar daar kersies aangesteek is in versierde sandgevulde sakkies ter herdenking of viering van persone wat aan dié siekte dood is, oorleef het of tans daarmee worstel. Die simbool van HOOP het ook helder gebrand.
Nancy van Staden, Kansa Lephalale se gemeenskapsmobili-seerder en Riana Bronkhorst, streeksbestuurder in Limpopo, bedank almal wat aan die RfL deelgeneem het. “Elkeen se insette word waardeer in hierdie belangrike saak,” sê Nancy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.