KANSA: “survivors” is prioriteit

Leoni Kruger
LEPHALALE — KANSA Lephalale het Vrydag 17 Junie ‘n heerlike bederfoggend by die NG Kerk Albertyn se kerksaal gehou vir mense wat kanker oorleef het. Kanker “survivors”.
Riana Bronkhorst, KANSA Limpopo streeksbestuurder, het die geleentheid geopen en gelees uit 1 Korintiërs 13:7.
Marika van Zyl wat reeds vir jare met kankerpasiënte werk en die pad saam met hulle stap, het vir almal gevra om op te staan vir ‘n oomblik van stilte vir diegene wat die stryd teen kanker verloor het.
Riana het verduidelik dat KANSA bekend is daarvoor dat hulle fondse insamel en dat die fondse gebruik word om kankerpasiënte se lewens bietjie makliker te maak, maar ook om kankernavorsing te kan doen.
“Buiten dat ons die geld vat, help ons ook met die versorging van pasiënte. Ons het byvoorbeeld fondse nodig om addisionele hulp te kry. KANSA het mobiele klinieke beskikbaar. Daar is KANSA versorgingsentrums in Pretoria en Polokwane, so wanneer pasiënte gaan vir behandeling, kan hulle gratis daar bly vir die duur van die behandeling” het Riana verduidelik.
Sy het verder vertel dat KANSA hard werk daaraan om mense bewus te maak van kanker, waarna daar opgelet moet word en wat mens kan doen om dit te probeer voorkom. Hulle doen bewusmaking vanaf kleuterskool- tot op hoërskoolvlak. “Ons deel die gevare van die son en ook sonbeddens vanaf ‘n jong ouderdom met die kinders” sê sy.
Die noodsaaklikheid van navorsing is beklemtoon – “sodat daar aanhoudend nuwe maniere bekend gemaak kan word om kanker te voorkom”.
Riana het kinders gewaarsku teen die rook van “hubbly bubbly” en gesê dit is so gevaarlik dat een rondte “hubbly” ekviwalent is aan 80 sigarette.
Susan Rothmann Lyons, KANSA Lephalale se gemeenskapsmobiliseerder, is aan die “suvivors” bekendgestel en Riana het verduidelik dat Susan se taak hoofsaaklik is om fondse in te samel deur middel van onder andere gemeenskapsprojekte.
Die “survivors” is verseker daarvan dat KANSA se grootste doel egter is om dáár te wees vir hulle en Marika het gesê dat haar kankerpasiënte se welstand haar eerste prioriteit is.
Die “survivors” is aangemoedig om mekaar te leer ken en te ondersteun – “leen van mekaar, leer by mekaar”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.