Karwassers was voort

Roekelose hantering van voertuie vind hier plaas

Roekelose hantering van voertuie vind hier plaas

Leoni Kruger
LEPHALALE — Daar is reeds verskeie kere berig oor die karwassers in Dopperkiaatstraat in Onverwacht. In die Mogol Pos van 6 Maart 2015 in die berig “Like water off a duck’s back” word gesê dat verskeie probleme ontstaan uit die onwettige karwassery, onder andere beweerde dwelmhandel, dreigemente en die vermorsing van water en dat die karwassers hulle nie steur aan die munisipale regulasies (bylaws) nie.
Die munisipaliteit het hulle deel gedoen deur borde op te rig wat baie duidelik enige vorm van handel dryf verbied. Van die borde is lankal afgebreek.
Besigheidseienaars is raadop oor die negatiewe uitwerking wat dit op hulle besighede het. Die karwassers maak boonop gebruik van die brandkrane en die water loop, veral oor naweke, in die strate af.
Volgens Johan du Preez van Matimba Apteek was die brandweerhoof en die polisie verskeie kere by hom en het hulle gesê daar sal teen die oortreders opgetree word. Dié kwessie is by die vergadering van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) verlede Donderdag geopper en lt. kol. Daniel Ramkgoakgoa, stasiebevelvoerder van Lephalale Polisie, het onderneem om aandag te gee aan die probleem en om dit weer aan te spreek sodat die polisie die oortreders kan vervolg.
Die munispale verteenwoordiger sê die betrokke regulasies, met die relevante boetes, is aan die polisie bekendgemaak.
Woensdag 29 Junie het adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, aan Mogol Pos gesê dat die polisie nie die mense voor die voet kan arresteer nie. Daar moet ‘n klag gelê word (deur die munisipaliteit wat die munisipale regulasies bepaal) en dan kan die polisie in samewerking met die munisipaliteit optree.
By navraag het Lephalale Munisipaliteit gesê daar was wel ‘n munisipale regulasie in dié verband en dit was op hulle webblad bekendgemaak, maar die regulasie is terugverwys na die Raad, weens sekere tekortkominge. Dit beteken dat die munisipale regulasies weer voor die Raad moet dien sodat die tekortkominge uitgeskryk kan word. Daarna sal dit aan die publiek voorgelê word vir publieke konsultasie en dan moet dit geproklameer word. Die munisipale verkeersbeamptes en die polisie moet iets hê om op te staan voordat die oortreders beboet kan word en voordat die regulasies nie geproklameer word nie, kan boetes nie uitgereik word nie. Daar word wel onderneem om intussen sekere operasies uit te voer om die oortreders te verwyder.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.