Kaskarpret al beter!

Die “Smarties” vang spoed
Die “Smarties” vang spoed

Leoni Kruger
LEPHALALE — Laerskool Ellisras se Kaskardag is ‘n jaarlikse hoogtepunt waartydens die onderwysers baie hard werk en die leerders groot pret het. En die ouers moet kliphard dink en beplan aan ‘n behoorlike ryding.
Vanjaar se kaskardag is Donderdag 28 Julie gehou. Die onderskeie spanne en hulle spanleiers (wat natuurlik ‘n onnie is) het hulself eers aan almal bekendgestel waarna hulle om die “baan” gestap het sodat hulle behoorlik bekyk kan word. Met name soos Pretville, Cowboys and –girls, Super Students, Social Media, Jan Braai, Funky hats and shoes en vele meer het die besoekers geweet die dag gaan groot pret wees.
Skoolhoof Anton du Plessis het die kaskarresies amptelik geopen en gesê dit is die een geleentheid in ‘n jaar waar ouers, onderwysers en kinders saamwerk om alles agtermekaar te kry vir die groot dag. Dit is ook ‘n rare geleentheid waar kinders weer speel en lag in die buitelug – ver weg van rekenaars en ander tegnologie.
Die graad R-spanne was eerste aan die beurt en ouers en onnies moes behoorlik bontstaan sodat daar nie “ongelukke” op die baan is nie. Sommige van dié kinders het ore toegedruk en kliphard gehuil, maar die stuurwiel was vasgehóu, al was die oomblik te groot.
Hoe later natuurlik hoe kwater en hoe ouer die kinders hoe vinniger en meer waaghalsig het hulle geraak – tot groot vermaak van almal wat daar was.
Die temawenners in die onderskeie graadgroepe is Maandagoggend tydens saalopening aangewys. Graad 1 – Pac-man (graad 1M), graad 2 – Mickey and Mini Mouse (graad 2D), graad 5 – Social Media (graad 5T) en graad 6 – Pretville (graad 6L).
Die rondtewenners was graad RJ (Minions), graad 2B (Rascals), graad 4M (Super Students) en graad 7E (Jan Braai) met 37 rondtes.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.