Kersfees by NGK Ellisras-Wes

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die NG Kerk-Wes het verlede week ‘n baie geslaagde Kersete aangebied en van Donderdag tot Saterdag kon mens na hartelus kersinkopies by hulle baie spesiale Kersmark doen. Sondagaand het hulle die feestelikheid afgesluit met ‘n besondere kerssangdiens by die kerk.
Die idee van die Kersmark het ontstaan by Karin Botha, sekretaresse van die kerk. Sy het ook al die organisasie behartig.
“Die Kersfeesete Woensdagaand was presies wat die naam gesê het, ‘n Kersfeesete. Die gaste het gesmul aan ‘n heerlike driegangmaal, met die tradisionele koekstruif vir nagereg te midde van ‘n feestelike atmosfeer” sê sy.
Donderdagoggend moes hulle vroeg uit die vere om alles gereed te kry vir die opening van die NG Kerk Ellisras-Wes se eerste Kersmark. Uitstallers van so ver as Polokwane, Naboomspruit, Pretoria, Britz en Thabazimbi het uitgestal en besoekers kon kies en keur uit enigiets van Bonsai’s, tuisgebak, houtwerkgeskenke, juweliersware tot skilderye.
Die teetuin was ‘n groot trekpleister en die heerlikste ligte etes, koeke en drankies is bedien.
Kersvader het Saterdag by die mark gaan kuier – tot groot vermaak van die kleingoed.
Karin bedank ieder en elk wat hulle ondersteun het. “’n Groot dankie ook aan die uitstallers wat bygedra het tot die sukses van die Kersmark. Volgende jaar maak ons weer so” sê Karin.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.