Kerskonsert raak harte

Roné Hennop
MARKEN — Saterdagaand 29 Oktober was ‘n aand van lofprysing en verheerliking van Sy naam in die Marken Boeresaal.
Dewald von Solms (bekende Suid-Afrikaanse tenoor) het saam met die gewilde plaaslike manssanggroep, Die Grenadiers, onder begeleiding van Riekie Stopforth en Annelize Uys, ‘n baie passievolle vertoning gelewer.
Die gehoor het aan Die Grenadiers se lippe gehang met elke item wat hulle gelewer het, maar dit was die bekende “Hallelujah” van Leonard Cohen wat vertaal en opgevoer is in Afrikaans, wat letterlik elke persoon teenwoordig “geroer” het! Riekie het die klawers met soveel passie gestreel dat niemand onaangeraak daar uitgestap het nie. Annelize het ook die lied “Mary, did you know?” op ‘n baie besonderse wyse voorgehou.
Die engelesang het betower, maar Dewald se getuienis wat hy gelewer het, het harte diep aangeraak.
Dewald het wêreldwyd in bekende operas opgetree. Hy het onder andere deurgeloop onder die bekwame hande van Mimi Coertze en hy is ook bekend vir sy optrede in die groep “VonWest” met Pieter West (finalis in die sesde seisoen van die bekende Idols-reeks) met items soos “Vivo Per Lei” en “Ek lewe vir jou!”
Dewald se vertolking van “Ek wil vir jou…” van Christa Steyn was Saterdagaand ‘n hoogtepunt. Sy interpretasie en verbinding van die lied met God se liefde vir elkeen van Sy kinders het mens letterlik tot stilstand gebring met die besef van God se ware liefde vir sy kinders.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.