Kinderbegraafplaas bewaar

Tienie (regs) bedank vir Peet vir die grafsteentjies
Tienie (regs) bedank vir Peet vir die grafsteentjies

Ria Wells
LEPHALALE — Die verlate kinderbegraafplaas langs Nelson Mandelarylaan regoor Pick n Pay gaan ‘n splinternuwe baadjie kry.
Tienie Loots, in samewerking met die grondeienaars, gaan dit omskep in ‘n historiese begraafplaas. Tienie was ook aan die stuur van die totstandkoming van die Pioniersbegraafplaas in Tom Krugerstraat.
Oud-Ellisrasser Peet (Knoppies) Kleynhans en Tienie het onlangs tydens ‘n skoolreünie koppe bymekaar gesit en Peet het besluit dat, aangesien hy ‘n grafsteenbesigheid besit en ‘n nefie van hom boonop in dié einste begraafplaas te ruste gelê is, hy as ‘n mooi gebaar grafsteentjies vir beter identifikasie gaan skenk. Hy het Donderdag 15 September al die pad vanaf Greytown in KZN gekom waar hy en Tienie die grafsteentjies aangebring het. Peet sal nog deur baie van die inwoners onthou word, want hy was ‘n oud-leerling van Laer- en Hoërskool Ellisras.
Hierdie is maar net die begin van die restourasie van ‘n kosbare gedenkwaardigheid vir die dorp.
Dit is egter met leedwese dat Mogol Pos bekend maak dat Peet presies ‘n week nadat hy die grafsteentjies gebring het, beswyk het aan ‘n hartaanval.
Volgens Tienie het hy ‘n graf gaan opmaak en op pad terug huis toe het sy seun wat saam met hom in die besigheid is hom gebel. Hy het aan sy seun gesê dat hy amper tuis is en hom dan sal terugskakel. Dit was ongeveer 16:00 Woensdagmiddag. Kort daarna het sy seun egter die oproep gekry dat sy pa oorlede is.
Tienie betoon sy meegevoel met die familie en is opreg dankbaar vir dit wat Peet onbaatsugtig vir die gemeenskap gedoen het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.