Kleinveefees lok talle

V.l.n.r.: Dawid Louw, Corne du Plessis, Pip Nieuwoudt en Pokkel Fredericks by die duurste boerbokooi
V.l.n.r.: Dawid Louw, Corne du Plessis, Pip Nieuwoudt en Pokkel Fredericks by die duurste boerbokooi

PRETORIA — Vanjaar se Kleinveefees, aangebied deur Wholesome Afslaers, is vanaf 23 tot 27 Augustus by Conrad Herbst Kleinveesentrum te Mooiplaatsie gehou.
Die klubs wat deelgeneem het aan die skou en veiling was Overvaal Dorpers, Bosveld Boerbokklub en die SA Kalahari Red Klub. Die Meatmaster skape asook die inheemse bokke het uitgestal en kos en vele ander stalletjies was beskikbaar.
Volgens Corne du Plessis, afslaer, was dit goed om te sien dat boere steeds kop bo water hou ten spyte van die knyptangeffek van die droogte en swak ekonomie. Hulle het hul diere met trots geskou en op die veiling aangebied.
Daar was deurentyd ‘n goeie opkoms en daar was 73 registrasies, van sover as uit Botswana.
Leatile Kesupetswe van Serowe, Botswana, was aanvanklik skepties en skrikkerig om ‘n veiling by te woon, maar Du Plessis het hom persoonlik genooi en hy het ‘n groot bydrae gelewer deur 25 dorpers en een kalahari red-ram te koop. Hy het na afloop van die veiling gesê hy is baie beïndruk met hoe welkom die afslaers en verkopers almal laat voel. Die kopers het ook, ten spyte van voertekorte,‘n goeie bydrae gelewer.
Die duurste boerbokram (R14 000) was ‘n kudderam verkoop deur Johan Boshoff van Bosland Boerdery in Marble Hall aan J&T Trust van Rustenburg.
Die duurste boerbokooi is vir R15 000 verkoop deur Pip Nieuwoudt van Nieuwoudville Marinus van der Ryst.
Die duurste dorperram (‘n tipe 5-ram) is vir R12 000 verkoop deur Izak Nel van Aliwal aan Anton Bothma van Vivo. Die duurste dorper-ooi is vir R11 000 verkoop deur Gideon du Plessis van Magaliesburg aan Dennis Marais van Hekpoort.
“n Wit dorper-ooi is verkoop deur Annelie Jonker van Chafra Dorpers vir R5 000 aan Werner van Heerden van Bronkhorstspruit. ‘n Ram is verkoop aan Joshua Brits van Honeydew vir R4 000. Die teler is Andries Hills van Bendita Hills Boerdery.
Die duurste Kalahari-ooi is vir R4 000 verkoop deur Andre van Wyk van Krugersdorp aan Conrad Strydom van Swavelpoort en die duurste ram is deur Andre van Wyk verkoop vir R7 000 aan Leatile Kesupetswe van Serowe in Botswana.
Almal wat by die veiling betrokke was, asook alle borge, word van harte bedank vir hulle teenwoordigheid en bydraes wat verseker het dat die Kleinveefees ‘n groot sukses was.
Die totale omset van die veiling was R608 000.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.