Knap pryse vir Kalahari Red’s

LEPHALALE — Die jaarlikse Kalahari Red-veiling is Saterdag 24 Februarie deur CDP Afslaers by Conrad Herbst Kleinveesentrum in Pretoria aangebied.

Die duurste ooi is vir R22 000 verkoop aan Faheem Kala (heel regs) van Botswana. Die verkoper was Josef Kleynhans van Lephalale. V.l.n.r.: Corne du Plessis (afslaer), Karam Said, Josef Kleynhans en Faheem Kala

Volgens Corne du Plessis van CDP Afslaers is die veiling goed ondersteun en die pryse wat behaal is dui daarop dat daar ‘n aanvraag na die ras is.

Telers en verkopers het van heinde en verre opgedaag om die veiling by te woon en volgens Du Plessis is die veiling goed ondersteun deur telers van Zimbabwe en Botswana. Die duurste bok is gekoop deur ‘n Botswana-teler.

Josef Kleynhans het vyf stoetooie aangebied en die gemiddelde prys behaal per ooi was ‘n allemintige R17 400! Die duurste ooi is vir R22 000 verkoop aan Faheem Kala van Botswana. Kleynhans se ramme is verkoop vir onderskeidelik R55 000 en R14 000.

Kleynhans het ook ‘n besondere ooi aangebied ten bate van die Rachelle van der Merwe mediese hulpfonds. Rachelle is ernstig siek en die hele gesin is bekend en geliefd in die bokbedryf, daarom is ‘n mediese fondsinsameling vir haar behandeling begin.

Kleynhans se ooi is vir R21 000 verkoop aan Phillip du Toit en die geld is geskenk vir Rachelle se mediese hulpfonds.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.