Kobra byt 5-jarige

BULGERIVIER — Die 5-jarige Dawid du Plessis is Dinsdagaand 23 Januarie omstreeks 23:30 deur ʼn Mosambiekse spoegkobra in sy huis in die Bulgerivier-omgewing gebyt. Sy ma, Retha, is in haar regteroog gespoeg.
“Ons het Dinsdag ʼn nuwe lugverkoeler laat installeer en almal was vreeslik opgewonde. Die kinders wou by ons in die kamer met die lugverkoeler slaap en ek het sommer vir Dawid ʼn bed op die grond langs ons bed gemaak. Ek het nét die lig afgeskakel toe ek Dawid hoor. Ek het dadelik aan sy stem gehoor iets vreesliks is verkeerd. Ek het opgestaan om die lig aan te skakel en die volgende oomblik het ek die koue, nat druppels in my gesig gevoel, waarna my oog verskriklik gebrand het,” vertel Retha. Sy het dadelik haar oog uitgespoel.
En toe sien sy die bloed op Dawid se vinger. Hulle het om 00:03 by Mediclinic Lephalale gestop waar hy gestabiliseer is en daar begin is met die toediening van agt ampules teengif.
“Hy het skielik ʼn verskriklike koors ontwikkel en die toedien van die teengif is effens gestaak,” sê Retha.
Sy praat met groot lof van dr Willie Barnard se kennis van slangbyte en sê hy was reeds gedurende die nag by hulle.
Volgens Phillip, Dawid se pa, vermoed hulle die slang het dalk in die kas gebly en agter Dawid se liggaamshitte aangegaan.
Met Mogol Pos se besoek was Dawid baie lomerig, sy hand geswel en blou. Hy het binne-aarse antibiotika ontvang en ʼn suurstofmasker gedra (wat hy afgehaal het vir die foto).
Teen druktyd sou Dawid Vrydag 26 Januarie in ’n Pretoriase hospitaal geopereer word om van die dooie weefsel te verwyder. Dr Barnard was reeds in gesprek met ’n spesialis.
Dapper Dawid het nie een keer gehuil nie en moedig vir Mogol Pos se kamera geglimlag met ʼn “cheese”.
Philip en Retha woon en werk albei by The Fold-kinderhuis in die Bulgerivieromgewing. Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en ’n familievriend het op Facebook versoek dat die gemeenskap bydraes lewer.
Volgens Marius Koekemoer, slangvanger in Lephalale, is dit die tweede voorval van ʼn Mosambiekse spoegkobrabyt in die Lephalale-omgewing in die afgelope nege dae.
Mikayla Robberts is op 19 Desember 2011 in haar bed in haar ouerhuis in Lephalale deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gebyt. Haar lang pad na herstel het nasionale nuusblaaie gehaal. Sy het intussen 38 operasies aan haar linkerhand ondergaan maar dit gaan goed met haar. ʼn Mosambiekse spoegkobra het sitotoksiese gif wat weefselvernietigend, maar nie lewensgevaarlik is nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.