Kobus is koning

Senior Interras Kampioenbul by die Warmbadskou

LEPHALALE — Kobus Erasmus van Jacmi Stoetery in Lephalale is bekend vir sy uithaler Simmentaler-stoet en hy het die afgelope tyd ʼn hele paar eerste pryse behaal.
By die Letabaskou in Tzaneen wat vanaf 9 – 12 Augustus gehou is, stap hy weg met die Junior Interras Kampioenkoei en die Interras Kalfkampioen.
Net daarna volg die Warmbadskou by die veemarkgronde van 16 tot 19 Augustus. Volgens Kobus was 430 beeste vir dié kompetisie ingeskryf, maar hy het weer eens breëbors weggestap as algehele Gold Cup-wenner. Om dié titel los te slaan wen hy die kategorie Interras Junior Kampioenkoei, Interras Kalfkampioen, Senior Interras Kampioenbul asook die Interras Beste Paar.
Sy besondere prestasies het verseker dat hy uitgenooi is na die Alfaweek in Parys by die koepel vanaf 11 tot 15 September.
“10 skoue in die land word genomineer om na die Alfaweek te gaan en mens word amptelik uitgenooi daarheen,” sê Kobus.
Gelukkig het die bul vir hom drie uitnodigings en die koei twee uitnodigings losgeslaan.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.