Koedoebulle deurboor

Koedoe

Leoni Kruger
LEPHALALE —Hennie Viljoen van die plaas Quebeck en sy dogter Cornél het Saterdagoggend rondom 07:00 ‘n grusame ontdekking gemaak toe hulle te perd na die bokant van die plaas ry.
Die eerste ding wat hulle onraad laat vermoed het, is toe hulle sien die wilddraad in die middel van die plaas lyk of dit geknip is.
Volgens Herman McAlpine, Hennie se skoonseun wat met Mogol Pos gepraat het, het hulle met die afklim van die perde, honde- en vreemde voetspore in die sand gesien. Een van die plaaswerkers het toe die spoor gevolg wat hom gelei het tot by twee dooie koedoebulle. Herman sê dit lyk of die booswigte die honde gebruik het om die koedoes tot teen die wildheining te jaag waar hulle vasgedruk is. Die een koedoe is met ‘n skerp voorwerp agter die oor tot in sy brein deurboor en die ander onder sy blad, tussen die ribbes, tot in sy hart. Die diere was nog warm. Toe die spoorsnyer ‘n ent verder stap, kom hy op die vier verdagtes en die honde af. Hulle het egter opgespring en weggehardloop. Hierna het Hennie per radio om hulp gevra.
Herman-hulle het die lyndrade dopgehou en die res van die gemeenskap het gehelp om paaie toe te maak. Die grootpad is gemonitor en die deel by die Palalarivier is toegemaak. “Net toe my vrou oor die pad Palalarivier se kant toe ry, toe sien sy die vier verdagtes. Hulle het in twee opgedeel en twee van hulle is na Olifant Nedersetting se rigting. Daar was sowat ses of sewe honde. Toe hardloop hulle in die bosse agter Olifant na Rooipoort se rigting” vertel Herman. Hy sê hulle moet geweldig fiks wees, want hulle het bykans ses kilometer in minder as ‘n halfuur gehardloop.
“Jy kry hulle aan die een kant en dan verloor jy hulle weer. Ons het hulle probeer voorsit, maar hulle is net te slinks” sê Herman.
Herman sê Jan-Louis Nortjé het op ‘n stadium te voet die veld in geloop en onder ‘n boom gaan sit toe twee van die verdagtes van voor af aangestap kom. Hy vermoed hulle het hom vir iemand anders aangesien, want toe hulle so 20 meter van hom af was toe vlieg hulle om en hardloop weg. Herman sê hulle het so in die hardloop van hulle klere ontslae geraak en was net eenvoudig te uitgeslape om vasgekeer te word.
“Ons het seker tot so 14:15 gesoek, maar is toe huis toe” sê Herman.
Die saak is by die departement natuurbewaring aangemeld en hulle was teen druktyd steeds besig met ‘n ondersoek.
Kaptein Ditsela, stasiebevelvoerder van Villa Nora Polisie, het vir Mogol Pos gesê hy is nie bewus van so ‘n voorval wat aangemeld is nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.