Koekeloerder — 7 April 2017

Beste Redakteur en Kollega
Ek sit op my stoel en lees van president Zuma en die ANC se top-‘ses’ leiers, die nuwe kabinet en die ZAR-Rand wat vryval.
My eerste vraag is as die ANC se topses leiers Zuma, Ramaphosa, Mbete, Mantashe, Duarte en Mkhize is, klop die media wat verwys na die president wat met die top- ses leiers vergader se som nie. Die ander topleiers behalwe die president is vyf.
Mevrou, maar jy besef mos meer as ander dat so ‘n vraag my laat wakkerlê en ja, ek kan dit regtig nie help nie! Ek plaas toe ‘n vraag oor hierdie som op Facebook. Eerstens uit ‘n rekenkundige oogpunt en tweedens omdat koerante feite verifieer. Maar o wee ons, met die groot gekarring aan die kabinet se somme (minus, plus en skuif = vierkantswortel onbekend) het niemand toe lus om my een plus vyf is ses uit te pluis nie.
Ek weet dus nog steeds nie of ek moet skryf president Zuma en die ANC se ander vyf van die topses leiers nie (om die som van die agterkant af vorentoe ook te laat klop), met ander woorde ses minus een wat praat is gelyk aan vyf wat stilbly, of so iets …
My tweede en laaste vraag is oor die-rand-kry-seer terwyl Zuma en die ANC se top-‘ses’ leiers – al sewe van hulle – vergader terwyl die grond (as gevolg van aardbewings) en die rand rommel …
— Elsa

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.