Kokkedore-kuier 30 jaar!

LEPHALALE — Die Albertyngemeente het Vrydagaand 1 Maart hulle jaarlikse Kokkedore-ete gehou en soos altyd was dit ʼn gesellige affêre met koskokkedore wat smuldisse voorgesit het.

Lizette Spammer saam met Liezel en dr Hoepfner tydens die Kokkedore-ete

Die idee van dié geleentheid het 30 jaar gelede ontstaan toe Sias en Lena Fouche vanaf die Kameeldrifgemeente by die NG Kerk Albertyn aangesluit en ʼn voorstel aan die kerkraad gemaak het. Hulle het gesê dat dr Danie Malan van die Kameeldrifgemeente die Kokkedore-ete met groot sukses by dié gemeente ingestel het en die hele idee is om ʼn gemeenskap bymekaar te kry vir lekker kuier met lekker kos.

Dr Hennie Hoepfner, leraar by Albertyn, sê dat hulle baie dankbaar is oor die sukses van die konsep. Dertig jaar gelede is R3 000 ingesamel en die bedrag het jaarliks gegroei tot die R55 000 wat Vrydagaand ingesamel is. “Maar,” sê dr Hennie, “dié besondere geleentheid gaan nie vir ons om die geld nie, maar oor die gesellige en ontspanne samesyn van die hele gemeenskap in ʼn besige en haastige samelewing.” Hy het die Kokkedore wat aan die hoof van die verskillende disse staan bedank vir hulle harde werk en vir elkeen wat saam gekuier het

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.