Koninklike prag en praal — matrieks neem afskeid

LEPHALALE — Die graad 12-leerders van Hoërskool Ellisras het Vrydagaand hulle skoolloopbaan met koninklike prag en praal afgesluit. Die skool se matriekafskeid, met die tema “A Royal Evening”, was ʼn uitstaande geleentheid.

Sjarmante jong mans en dames het in asemrowende uitrustings op die loopplank verskyn waar hulle telkens luidkeels deur ouers, vriende en familie toegejuig is.

Vanjaar se funksie is in die skoolsaal gehou en die seremoniemeester, Marnus Potgieter van Pretoria, wat net twee jaar gelede self in matriek was, het opgemerk dat dit die pragtigste skoolsaal is wat hy nog ooit gesien het.

Al die helpende hande, onder leiding van Marietjie van der Walt en Sylvia Richards, het inderdaad ’n koninklike saal opgetower. Die blomme het gewissel van verskillende soorte proteas gemeng met rose, vrugte en groente.

Ruan Weber, hoofseun van Hoërskool Ellisras in 2009, was die gasspreker van die aand. Hy het die toekenning ontvang vir die beste ingenieurstudent van sy graadgroep.

Die kos het alle verwagtinge oortref. Skaap op die spit, hoender, rys, beet- en roketslaai, aartappelslaai, gestolde wortelslaai, uitpakslaai en brood met verskillende smere.

Die matrieks het gedans tot middernag en hulle sal dié aand vir altyd koester.

Vir één aand was die eindeksamen, wat in hierdie einste saal geskryf gaan word, vergete …

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.