Koronavirus — moet ons bang wees?

Mogol Pos het met dr Mariëtte Emslie gesels oor die vreesaanjaende koronavirus wat die hele wêreld op hol het om te hoor wat dié virus regtig inhou.

Sy sê sy kry ’n daaglikse opdatering vanaf ’n Mediclinic-konsultant wat slegs werk met aansteeklike siektes. Hulle ontvang inligting soos daar navorsing gedoen word oor die siekte.

Sy sê ook die kommunikasie vanaf die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) is baie goed.

Teen die tyd van die onderhoud was daar slegs sowat 67 gevalle in Suid-Afrika getoets en teen druktyd was die getal reeds heelwat meer. Daar is wel bevestigde gevalle in Afrika.

“Daar word baie gedoen om die virus te probeer beperk in China, maar mens se eerste gedagte is dat, as daar van jou mense in China is, moet hulle huis toe kom. Die regte ding is dat hulle dan vir ten minste 14-21 dae in kwarantyn gehou moet word.

Dr Mariëtte sê die inkubasietydperk van die koronavirus is dieselfde as vir griep nl ongeveer 14 dae. Die mortaliteit is tussen 2% en 3% wat redelik laag is in vergelyking met die SARS-virus se mortaliteit wat bv 20% was in 2003.

“Dit is interessant dat ’n virus nie so vinnig versprei as die mortaliteit so hoog is nie, want die mense gaan letterlik dood voordat hulle die virus kan oordra. Die koronavirus is juis gevaarlik en versprei vinnig en maklik omdat die mortaliteit laag is,” verduidelik sy.

Daar is verskeie soorte koronavirusse – die een wat tans almal op hol het, is ’n nuwe soort koronavirus. Hierdie spesifieke virus is ’n eerste.

“Virusse muteer hulleself of hulle kry nuwe ‘wapens’ – amper soos iemand wat ’n .22 gehad het en nou kry hy ’n AK47. Die mutasie beteken dit word eintlik ’n nuwe virus en die mens se liggaam moet eers immuniteit daarteen opbou. En omdat dit ’n virus is en nie ’n bakterie nie, kan dit nie met antibiotika behandel word nie. Dr Mariëtte sê daar behoort teen volgende jaar entstowwe beskikbaar te wees teen die koronavirus.

Die virus veroorsaak maklik longontste-king – veral by ouer mense en mense met ’n lae immuniteit en/of longprobleme. Sy beklemtoon dat jy nie jouself “gou kan laat toets nie”. Dit word net by die NIOS (Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes) gedoen. “Jy kan nie by ’n laboratorium instap en sê jy wil jouself laat toets nie, ’n dokter moet jou laat toets, waarna aanmeldings-vorms voltooi word.

Die laboratorium sal die toets neem en dit wegstuur na die NIOS saam met die vorms om te sê waar jy was, wie jy is en met wie jy in aanraking was en dit gaan alles na die instituut toe wat dit hanteer.

“Baie mense dink as jy koors en verkoue het, is die moontlikheid dat jy die koronavirus het, maar die eintlike simptoom wat dit onderskei is hoes.

“Koors verkoue en hoes, en natuurlik as jy ʼn geskiedenis het dat jy in China was of in kontak was met iemand of gewerk het as verpleegster of dokter met die siek mense. “Daar moet ’n konnotasie wees met China of ander lande waar die virus teenwoordig is. Dit gaan nie uit die lug val nie, verseker sy.

Dr Mariëtte sê sy het goeie kontakte in Ellisras en Mediclinic wat haar dadelik sal laat weet as daar iemand is wat die virus het en dan sal die media en gemeenskap dadelik in kennis gestel word.

Soos sy tereg sê – mense wat video’s en stemboodskappe versprei voordat hulle weet of daar gevalle bevestig is, sal veroorsaak dat niemand dit ernstig opneem as daar regtig nood is nie.

Polokwane Staatshospitaal is intussen geïdentifiseer as die hospitaal in Limpopo vir die isolasie van bevestigde gevalle – veral in geval van groot getalle pasiënte.

“Ek dink dis belangrik dat mense moet weet dat die virus deur druppelverspreiding en direkte kontak versprei word, met ander woorde as jy nies of hoes of aan ʼn sakdoek of sneesdoekie vat en dan iemand se hand skud”.

Naskrif
Die aanlyn Woordeboek van Afrikaans Vandag (WAV) het onlangs die volgende inskrywing/verduideliking oor EARS-CoV/19-nCov op hul blog (slegs ʼn uittreksel is gebruik en ʼn verkorte weergawe van die volledige stuk het op 28 Februarie 2020 in die Beeld se rubriek Woordwisseling verskyn) geplaas:

Vir die koronavirus en -siekte is sedert Desember verskillende name gebruik, onder meer “2019-nCoV” en “Wuhansiekte”, na die “virusstad” waar dit ontstaan het. Op 11 Februarie maak die Internasionale Komitee vir Virustaksonomie en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir beide die virus en die siekte ’n amptelike naam bekend: “EARS- (SARS-)CoV-2” vir die virus, om die verband met “EARS-CoV”, wat in 2003 ’n soortgelyke “ernstige akute respiratoriese sindroom” (“EAR-”) veroorsaak het, te beklemtoon, en “Covid-19” (“coronavirus disease 2019”) vir die siekte.

Die naam “EARS-CoV-2/Covid-19” is dus soortgelyk aan “MIV/vigs”: Die eerste deel verwys na die virus; die tweede na die toestand. As jy Covid-19 het, is jy siek.)  

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.