Kreatief is haar naam

LEPHALALE — Erika van Zyl het tien jaar in die mediese veld gestudeer. Sy het haar BCur-graad verwerf by die PUK (nou Noordwes Universiteit), daarna het sy gespesialiseer in Teater by die destydse RAU (nou UJ) en later in haar lewe het sy ’n vierjaargraad in Gesondheidsdiensbestuur en Verpleegonderwys verwerf.

Erika van Zyl

Vandag is Erika nie net in Lephalale nie, maar landswyd, bekend as ’n uitstaande Suid-Afrikaanse kunstenaar.

Sy is geliefd, besonder talentvol, nederig oor haar sukses en dankbaar dat sy uiteindelik elke dag haar passie kan uitleef.

Mogol Pos het by Erika gaan kuier by haar huis buite Lephalale. Erika het tot en met standerd 7 (graad 9) kuns as vak by Hoërskool Ermelo gehad, maar sy kon nie aangaan daarmee nie, omdat daar ten minste tien leerders moes wees wat kuns wou neem. En daar was nie tien nie …

Erika het in 1998 begin om een keer per week skilderklasse te neem – op daardie stadium hoofsaaklik as stokperdjie om kreatiewe stresverligting te kry, want sy was toe die bestuurder (matrone) en in beheer van ’n teater in ’n private mynhospitaal in Johannesburg.

Hulle het in 2000 na Tom Burke/Swartwater getrek en sy het in 2002 begin skilderklasse aanbied. Haar eerste uitstalling was in 2003 by ’n Vroudag te Swartwater.

Hierna het hulle die Purple Lady-winkel in Jan Leestraat begin waar sy en Dewald, haar man, op raamwerk gekonsentreer het. Sy het ook skilderklasse aangebied (aanvanklik op die plaas, later by die SAVF Maroela-oord se saal en ook by die winkel).

Toe hulle jongste kind, Tanya, in 2017 na Potchefstroom verhuis om Grafiese Ontwerp te gaan studeer het Erika voltyds begin skilder en sy vandag bied sy heel jaar landswyd werkswinkels aan.

“Gedurende hierdie twee jaar was ek baie geseënd om ongelooflike mense te ontmoet in die kunswêreld en wonderlike geleenthede het na my kant toe gekom,” sê sy.

2018 se uitstallings sluit in:

Groepuitstallings: Little Gems in die Lindy van Niekerk Kunsgallery in Kaapstad, Canvas De-Vine by die Rietvallei Wynlandgoed in Robertson en ’n Kuns SA-uitstalling in Kirstenbosch.

’n Solo-uitstaling: Conversations with Nature by die Pretoria Kunsgalery;

Erika is ook genader vir die volgende:

Kloppers, Sas, A Dictionary of the Artists of the Waterberg, Seriti Printing 2013, P 126.

Hierdie is ’n boek waarin haar werk en bibliografie, tesame met ’n groep wonderlike kunstenaars se werk, verskyn het.

Sy is in 2018 die naaswenner van ’n voorbladkompetisie van die “SA Artist Magazine” met haar skildery “Old Cottage” in die kategorie: “Demonstration on painting silver”.

Die SA Artist Magazine het haar ook genader om ’n artikel vir hulle te doen. Die artikel se naam was “Painting Silver” (Uitgawe no 32)

Die werkswinkels wat sy sover in 2018 aangebied het is in Lephalale (stillewes), in Pretoria en Bloemfontein oor hoe om atmosfeer te skep in ’n landskap.

In 2017 het sy werkswinkels aangebied in Simonstad, Prins Albert, Kuruman en in Lephalale.

Erika is op die oomblik baie besig om die laaste skilderye vir die jaar af te handel. Sy lewer aan galerye in Pretoria, Kaapstad, Clarens en George en moet almal van nuwe werk voorsien voor die einde van die jaar.

Sy is ook voor die einde van die jaar betrokke by twee uitstallings – in Kaapstad en Robertson.

Erika beskryf haarself as ’n impressionis wat werk in olie. Sy spesialiseer in landskappe en stillewes, maar doen ook graag straattonele en figuurstudies.

“My grootste inspirasie is die manier waarop lig op ’n onderwerp val. Ek skilder lig,” verduidelik sy.

Erika sê die belangrikste eienskap om te kan skilder is nie talent nie. Dit help om die paadjie korter te maak, maar die belangrikste eienskappe wat jy moet hê om suksesvol te wees is deusettingsvermoë, konstante harde werk, positiewe denke, die bereidheid om aan te hou leer, geloof in jouself en die vermoë om kritiek positief aan te wend. Fokus op jou sterkpunte en moet nooit probeer om iemand anders te wees nie”.

Teen druktyd het Erika en Dewald reeds vertrek na Kaapstad vir ’n groot avontuur.

Hulle het in 2016 derde geëindig met die Tuis Tydskrif se “Fixit with Flair”-kompetisie.

“Ons het een van die eenhede by ons gastehuis in Prins Albert self gerestoureer. Uitspruitend hieruit is ons nou gekies as een van drie pare wat gaan deelneem aan ’n nuwe realiteitsprogram vir KykNET se Via-kanaal wat vroeg in volgende jaar uitgesaai gaan word. Ons drie pare gaan ’n huis van niks af restoureer. Ons sien baie uit en sien dit as ’n geleentheid wat ons nie kan mis nie – hou asseblief vir ons duime vas”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.