Kriminele besig — voertuigdiewe en kluisstropers

LEPHALALE — Luitenant-kolonel Daniël Ramakgoakgoa, stasiebevelvoerder van Lephahale Polisie sowel as Brigadier John Masia, Lephalale Klusterbevelvoerder, rig ’n dringende waarskuwing aan die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir drie verdagtes wat mense oorval en voertuie kaap.

Volgens kolonel Ramakgoakgoa was ’n man vermoedelik Sondagaand 25 November agtervolg tot by sy huis in Onverwacht. Hy het by die hek ingery en was reeds in sy huis toe ’n verdagte in die deur staan met ’n vuurwapen op hom gerig. Daar was nog twee verdagtes betrokke.

Een van die verdagtes het die man se voertuig, ’n Ford Focus, na Shongoane geneem en sleutels asook dokumente uit sy kluis gesteel.

Dinsdagoggend 27 November het kolonel Ramakgoakgoa weer verneem van ’n soortgelyke voorval wat Maandagaand gebeur het.

Volgens hom is die bestuurder van ’n BMW-voertuig deur ’n ander voertuig agtervolg tot verby die munisipale kantore. Die ander voertuig het gestop en iemand het uitgeklim. Volgens die BMW-eienaar het hy ook gestop omdat hy gedink het die persoon wil aanwysings vra. Hy is uit sy voertuig gedwing en in die verdagtes se voertuig gelaai en uiteindelik in Vaalwater afgelaai.

’n Ander verdagte het met die BMW gery.

Teen druktyd was beide voertuie nog soek.

Kol Ramakgoakgoa maan almal wat op die pad is om nooit te stop vir enigiemand wat hulp vra nie. As die situasie vir jou verdag voorkom, luister na jou instink!

Kol Ramakgoakgoa versoek ook veral besigheidseienaars om seker te maak daar is nie kontant in die kluis/e in die winkel nie.

Hy sê daar was die laaste tyd verskeie voorvalle van besigheidsroof waar kluise oopgebreek en die besigheidseienaar beroof is van groot bedrae kontant.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.