Kristian begrawe, saak geopen

Dié foto is een van die foto’s wat Woensdag tydens Kristian se begrafnisdiens as deel van ‘n skyfievertoning vertoon is. Kristian was baie lief vir diere en het gereeld vir die leeus gaan kuier

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die dood van die 12-jarige Kristian Prinsloo wat op 8 April in Lephalale deur ‘n volwasse leeumannetjie aangeval is, het die hele land aangegryp. Kristian is in sy ouma, Marie Strydom, se woonstel op die Waterkloof-landgoed aangrensend tot Lephalale aangeval waarna hy tot met sy dood in die Mediclinic Muelmed se intensiewe sorgeenheid in ‘n geïnduseerde koma aan ‘n ventilator gekoppel was. Hy is dood die dag na sy 12de verjaarsdag.
Kristian is Woensdag 3 Maart om 13:30 vanuit die Lewende Woord Kerk in Centurion begrawe.
Verskeie mense uit die Lephalale gemeenskap het hulp en ondersteuning aangebied aan die familie en honderde boodskappe van bemoediging en sterkte het op Kristian se Facebook-blad ingestroom. Kristian se pa, Herman, het Woensdagoggend ‘n boodskap op die Facebook-blad geplaas: “Hemelse Vader. Vandag wil Adri en ek bid vir krag, vrede en vertroosting, nie net vir onsself nie, maar vir Marie Strydom, Cor & Alet Vos en hulle gesin, al ons famielie, al ons vriende en ons nuwe elektroniese famielie. Here, op hierdie dag van hartseer waar ons Kristian se liggaam tot ruste gaan le, dat U ons harte ook sal vul met vreugde, want ons weet ons geliefde seun is by U. Here laat hierdie dag a viering wees van n lewe te midde van die hartseer. Here, dankie vir U genade, krag, vertroosting, vrede, liefde en vreugde wat U in oorvloed oor ons giet. Here, ons dra hierdie dag aan U op en laat dit in U Almagtige hande en vra dat U hierdie dag en almal wat saam ons is sal seen. Amen” (sic)
‘n Geregtelike doodsondersoek-saak is op 26 April by Sunnyside Polisie deur konstabel Rasenyalo geopen en volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale SAPS woordvoerder, sal die saak oorgeplaas word na Lephalale SAPS.
Phillip Matome Monuepao, provinsiale direkteur van die nakoming en toepassing van omgewingswette, het Dinsdag aan Mogol Pos bevestig dat Omgewingsake wel ‘n saak geopen het vir die oortreding van die omgewingswetgewing.
Hy het gesê die ondersoek van die saak duur voort in samewerking met die polisie en die veediefstaleenheid.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.