Kuipersbultpad — onvoldoende padtekens

‘n Waarskuwing-stopteken, maar geen stopteken, is dit wettig?
‘n Waarskuwing-stopteken, maar geen stopteken, is dit wettig?

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die 45-jarige Piet Human het sy vrou, Madeleine, die aand van 27 Augustus laat weet dat hy op pad terug huis toe is nadat hy by sy broer gekuier het.
Madeleine sê toe sy teen 21:30 nog niks van hom gehoor het en sy selfoon bly afgeskakel het sy geweet iets is verkeerd. Min het sy geweet watter herstelpad op hulle wag.
Madeleine het geweet dat hy via die Kuipersbultpad huis toe ry. Sy het die polisie drie keer deur die loop van die nag geskakel om te hoor of daar ongelukke in die omgewing aangemeld is, maar hulle het van niks geweet nie. Sy kon nie ry om te gaan hulp soek nie, want Piet het met haar voertuig gery en sy was gestrand.
Rasend van bekommernis het sy vroeg Sondagoggend haar skoonma gebel en gesê dat Piet nooit by die huis uitgekom het nie.
Almal het dadelik gery om te probeer uitvind wat van Piet geword het. “Piet se sussie-hulle wou by Afguns net op die Kuipersbultpad draai toe sy terugkyk en die voertuig ‘n hele ent in die veld sien lê” sê Madeleine.
‘n Verbyganger het intussen by die toneel gestop en sy vrou per radio gevra om vir Madeleine te laat weet dat hulle Piet gekry het. “Die vrou het vir my gesê my man was in ‘n ongeluk, hy leef en het net sy been gebreek en sy gesig gesny” sê Madeleine.
Madeleine sê toe hulle op die toneel aankom was daar reeds ‘n hele paar mense wat probeer help het. Die ambulans was daar, asook twee polisielede, konstabel Madira en konst. Tibanaye.
Sy praat met groot lof van die behandeling wat hulle by Mediclinic Lephalale ontvang het en sê die dokter het selfs met sy eie voertuig agter die ambulans aangery tot in Pretoria om seker te maak alles verloop glad tot by die Muelmed Hospitaal.
Na verskeie toetse by Muelmed gedoen is, is vasgestel dat hy sy rug en been gebreek en baie ernstige gesigbeserings opgedoen het. Na verskeie operasies en baie rekonstruksie aan sy gesig is Piet op 14 September ontslaan.
Madeleine sê Piet kan nie onthou wat die aand gebeur het nie, maar dit is sover haar kennis strek die hoeveelste motoris wat op daardie spesifieke plek op die Kuipersbultpad beheer oor hul voertuig verloor. “In een van die vorige gevalle is ‘n persoon dood nadat hy van die pad af gery het. Daar is geen duidelike chevron-padteken of enige duidelike aanduiding dat die pad so skielik stop nie” sê sy.
Mogol Pos het die pad gaan ry en bevind dat die padaanwysings inderdaad nie voldoende is nie. Die chevron is gebuig en is onder teen ‘n paal staangemaak. Die pad maak ‘n dip en ‘n halwe blinde hoogte en dan is slegs ‘n waarskuwing-stopteken aangebring met geen stoptekenbord daarna nie.
Madeleine sê hulle is nie seker of Piet aan die slaap geraak het of ‘n “floute” gekry het nie, sy is net dankbaar hy leef. Hulle wil net graag hê dat daar duideliker padtekens op die pad aangebring word wat aandui dat daar ‘n stop voor is.
Mogol Pos het die kwessie bespreek met Isak Majadibodu, hoof van padinstandhouding by Lephalale se departement van openbare werke, paaie en infrastruktuur en hy het onderneem om seker te maak dat addisionele padtekens op die Kuipersbultpad aangebring word. Die plan is om 500 m en 200 m waarskuwingsstopborde aan te bring asook nog “rumble strips” wat voertuie vroegtydig waarsku om stadiger te ry en dat daar ‘n stopteken voor is. Die chevron wat tydens ‘n vorige insident van die paal af gery is, is volgens Majadibodu SANRAL se verantwoordelikheid, maar hulle sal sien dat dit weer opgerig word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.