Kwessies met SAPS en ander

Leoni Kruger
LEPHALALE — “Die samewerking van sommige polisielede is baie swak en die voertuie en mannekrag is te min”. Dié en vele ander kwessies is by die LGVF-vergadering bespreek na aanleiding van klagtes wat ontvang is oor swak diens en samewerking van die polisie se kant af.
Thys Eloff, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringforum het gesê hy kry goeie samewerking van die polisie, maar hy weet daar is baie klagtes. Hy het die gemeenskap versoek om name te noem van die polisielede wat swak diens lewer. “Ons kan nie veralgemeen nie” sê hy.
Hy het wel bevestig dat die voertuigkwessie ondersoek word, aangesien daar moontlik te veel voertuie toegedeel is vir administratiewe doeleindes en te min wat operasioneel is.
Die brief wat deur oud-kolonel Wessel Geldenhuys aan die stasiebevelvoerder geskryf is, is ook bespreek en Eloff het gesê daar sal werk van gemaak word.
Daar is ook klagtes geopper oor die lang rye waarin mense moet staan om iets te laat beëdig en indien ‘n dringende saak aangemeld word, moet daar in dieselfde ry gestaan en wag word. Die vergadering is van mening dat daar apart voorsiening gemaak moet word vir beëdigde verklarings en dat die nie deur die aanklagkantoorpersoneel behartig behoort te word nie.
Grondeienaars en –bestuurders is ook tydens die vergadering versoek om, in gevalle van moontlike grondbesetting, binne die reg op te tree en nie reg in eie hande te neem nie. “Bel heel eerste die polisie en daarna jou bure om jou by te staan” is gesê.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.