Kyk hoe rumoer hulle!

Dr Daan en Michelle van Wyk en Martiens Joubert van Juba

LEPHALALE — Dr Daan van Wyk is ’n trotse dominee. Hy het van oor tot oor geglimlag oor die Nederduitsch Hervormde Kerk Ebenhaeser se Boererumoer wat soos elke jaar ’n klinkklare sukses was.

Martiens Joubert van Juba was die man agter die mikrofoon en hy het mense met heerlike musiek en kwinkslae vermaak en die gemoedere opgebeur.

Die atmosfeer was fantasties en waar jy gaan was mense aan die glimlag, kuier en koop tussen al die stalletjies. En soos dit nou maar eenmaal is, ’n vrou en ’n blink ding was nog altyd pasmaats. Die silwerjuweleuitstalling was dus ’n groot aantrekkingskrag, maar so ook die klere, velhoede en -skoene, fotohoekie, vars produkte, biltong en al die ander stalletjies wat gesorg het vir die lekkerste smulgoed.

Soos altyd het die revue-optredes sommige ouers op hulle stoele laat staan om video-opnames te maak van hul kosbare bloedjies wat ekstra kleur en atmosfeer aan die Boererumoer verleen het.

Dr Daan bedank die hele gemeenskap vir hul wonderlike ondersteuning en sy gemeentelede vir hul harde werk wat tot die groot sukses van die dag bygedra het.

Tot volgende jaar!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.