Lamprecht voorlopig vry

LEPHALALE — Die saak van poging tot moord wat deur Tshepo Rasodi teen Hannes Lamprecht gemaak is, is Donderdag 26 Februarie voorlopig deur die hof teruggetrek.

Rasodi, een van die verdagtes vir die moord op Pieter Vink Pieterse in Februarie 2017, het meer as twee jaar na die voorval die saak teen Lamprecht geopen. Rasodi het onder meer beweer Lamprecht het ’n man probeer doodslaan in die Steenbokpan-area op 23 Februarie 2017.

Rasodi was op borgtog uit toe hy nie opdaag vir ’n vorige hofverskyning nie omdat hy na bewering siek was. Die saak was uitgestel na ’n later datum en hy was versoek om ’n mediese sertifikaat van sy dokter aan die hof te wys, maar hy het weer nie opgedaag en was nie telefonies bereikbaar nie.

By nadere ondersoek het die polisie vasgestel dat hy gevlug het en teen druktyd was hy steeds op vrye voet.

Verskeie Lamprecht-ondersteuners het weer eens Donderdag by die hof in Lephalale opgedaag en hulle was verheug oor die hof se uitspraak dat die saak voorlopig teruggetrek is.

Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.