Leë erwe wegkruipplek vir kriminele — inbrake drasties toegeneem

LEPHALALE — “Die inbrake in Lephalale het drasties toegeneem teenoor verlede jaar dieselfde tyd,” het kolonel Daniel Ramakgoakgoa gesê by die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se vergadering op Donderdag 16 Augustus.

Hy het ook gesê daar word vermoed dat daar verskillende groepe inbrekers in die dorp werksaam is, maar hulle modus operandi is dieselfde. “Sommige is te voet en ander gebruik voertuie. Sommige van hulle verander van skoene sodat hulle spore nie gevolg kan word nie en baie van die inbrekers is onwettig in die land.

Hy het weer verwys na die talle inbrake in die Kerkstraat-omgewing waar daar wel sekuriteitsbeamptes diens doen en die leë erwe wat nie deur die eienaars onderhou word nie.

“Die digte bosse is ʼn uitstekende wegkruipplek vir kriminele en dit maak die polisie se werk baie moeilik,” het hy gesê.

Kol Ramakgoakgoa het ʼn beroep op die eienaars van leë erwe gedoen om te reël dat die erwe skoongemaak word – veral die erwe agter die Lephalale Mall en Choppies.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.