Leeuramp

Cor Vos saam met een van sy leeus op ‘n bed in die huis

Leoni Kruger
LEPHALALE — “Dit was ‘n ramp wat gewag het om te gebeur” was menige inwoner van Lephalale se reaksie op die nuus dat Kristian Prinsloo (11) Saterdag 8 April deur een van Cor Vos van Lephalale se drie leeus aangeval is.
Kristian is die kleinkind van Marie Strydom (75) wat woon op die Vosse se landgoed, Waterkloof, wat aan die dorp grens. Volgens vriende van die Vos-familie kuier Kristian glo gereeld tydens skoolvakansies by sy ouma.
Kristian en Marie was glo Saterdagoggend in die kamer toe die jong leeumannetjie by die vertrek instap en Kristian aangeval het. Die leeu het Kristian aan sy keel gebyt en Marie het blykbaar probeer om die dier se kake oop te forseer om Kristian te bevry. In die proses is sy ook beseer. Hulle is na Mediclinic Lephalale geneem vir behandeling.
Volgens dokter Mphelo wat praktiseer by Mediclinic Lephalale en Saterdag aan diens was, was Kristian se beserings aan sy slukderm, keel, kop en gesig baie ernstig en het hy baie bloed verloor. Hy was ook in geweldige pyn. Dr Mphelo sê Kristian was van 15:00 tot 19:00 in die teater waarna hy per noodhelikopter van Netcare 911 na Mediclinic Muelmed in Pretoria vervoer is en daar in die intensiewe sorgeenheid opgeneem is. Hy was deurentyd op ‘n ventilator.
Dr Mphelo het bevestig dat Marie ook in die hospitaal opgeneem was om haar beserings te behandel, maar sy is dieselfde aand reeds ontslaan.
Mnr Burkels Nape, woordvoerder van die provinsiale departement van omgewingsake, sê Vos het wel ‘n permit wat hom toestemming gee om die leeus in hokke aan te hou, maar hy mag hulle nie by die hokke laat uitgaan nie. Die permit bepaal ook dat Vos, of iemand deur hom aangewys, die enigste mense is wat interaksie met die leeus mag hê in die hokke of die leeus mag vervoer. Nape sê die permit is in 2016 uitgereik en is geldig tot 2019. Hy het bevestig dat die departement besig is met ‘n ondersoek om die gebeure by Vos se huis te ondersoek, maar dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.
Mogol Pos het talle pogings aangewend om met Vos te praat, maar sy telefoon het eers gelui en later was dit afgeskakel. Alet het ook nie haar oproepe beantwoord nie. Die hekke by die Waterkloof landgoed was gesluit.
Marietie Louw-Carstens berig in die Beeld van 10 April dat Vos vir haar gesê het dat daar draadhokke is waar die leeus aangehou word maar hulle laat die diere uit die hokke kom as hy en sy vrou en kinders tuis is. Hy het verder gesê die leeus is mak, gewoond aan mense en hulle slaap soms op die bed. Volgens die berig het Vos ook gesê dat Kristian “nooit in enige lewensgevaar was nie”.
Foto’s en ‘n video op Alet Vos se Facebookblad wys hoe die volwasse leeus in die huis is en dit is duidelik dat daar ‘n sterk band tussen die leeus en die gesin is.
Sanet Dippenaar, woordvoerder by Mediclinic Muelmed het Woensdagmiddag gesê dat Kristian steeds in die waakeenheid lê en aan ‘n ventilator gekoppel is en dat hy Woensdagoggend ‘n tweede volle breinskandering (MRI) gehad het, maar teen druktyd was die uitslag nog nie bekend nie. Hy het steeds vog op sy brein en twee van sy nekwerwels is gekraak. Sanet het gesê die eerste 48 uur na enige trauma is krities vir oorlewing en Kristian se ouers, Herman en Adri, is dankbaar dat dit verby is. Sy toestand is steeds kritiek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.