Lesideng — misdaad groot kopseer

VAALWATER — Jannie Grove van die plaas Leeudrift, direk geleë langs Lesideng se uitbreiding 4 en 5, is moedeloos oor die toename in inbrake, vandalisme en diefstal op sy plaas.
“Daar is reeds 23 keer in die afgelope 12 maande by ons gesteel. Die waterpomp is al vier keer gesteel, heiningdrade word daagliks afgeknip en ek weet nie eers meer of dit die moeite werd is om dit te probeer regmaak nie,” sê Grove terwyl hy net moedeloos kyk na sy beskadigde drade.
“Die veld word as ʼn permanente toilet gebruik en menslike ontlasting word oral in die veld gevind. Daar is ook ʼn groot hoeveelheid onwettige storting wat teen my heining en sommer ook binne-in die plaas plaasvind. Dit is dieselfde grond wat ek ook vir weiding vir my eie diere moet gebruik en dit is besig om totaal handuit te ruk,” sê hy.
Grove sê lede van Vaalwater SAPD was al hoeveel keer ontbied, maar hulle het doodeenvoudig nie tyd om hierdie tipe misdaad op te volg nie.
Amanda du Toit, nog ‘n plaaseienaar met ‘n plaas wat grens aan Lesideng x3, is net so moedeloos oor die aanhoudende diefstal en vandalisme. “Die staal word eenvoudig oornag uit ons heining gesteel en mense het geen respek vir ons grense nie. Hulle kom in en uit soos hulle wil en die onwettige storting van vullis is ʼn daaglikse probleem,” sê sy.
“Ons hoor ook af en toe skote in die nag en daarna is daar geen verklaring voor nie. Dit is kommerwekkend” vertel sy verder.
Volgens Vaalwater SAPD is daar tans ʼn groot toename in huisbrake in die Vaalwateromgewing en hulle versoek inwoners om waaksaam te wees en nie deure of vensters oop te los nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.