Libbie ʼn sewester

LEPHALALE — Die 24-jarige Libbie Janse van Rensburg is reeds die afgelope drie tot vier jaar die kaptein van die Universiteit van Pretoria (Tuks) se Sewespan en sy was vanjaar vir die eerste keer kaptein vir die SA Studente-sewespan wat in Julie wedstryde gespeel het by die Napoli 30th Summer Universiade (soortgelyk aan die studente-olimpiese spele).

Libbie sê sy het grootgeword tussen Pretoria en Ellisras, maar haar ma het besluit dit sal voordelig vir haar wees om na ʼn Engelse skool toe te gaan. Hulle het na Pretoria getrek en sy was in Lynnwood Ridge Primary School en het haar hoërskooljare voltooi by Tyger Valley College. Baie van haar familielede woon nog in Lephalale en sy sê die Bosveld lê haar baie na aan die hart.

Dit is juis haar oom se plaas op Steenbokpan waar sy graag elke winter gaan jag.

“Ek sou graag meer gereeld wou plaas toe kom maar met dié dat ek so gereeld oorsee is met die rugby kan ek dit nie genoeg doen nie. Ek doen wel moeite om ten minste elke jaar vir ʼn week of twee by die plaas uit te kom, veral met jagseisoen en wanneer daar groot familiebyeenkomste is,” sê sy.

Libbie het eers op Universiteit begin rugby speel en het nooit geweet vrouerugby is ʼn opsie nie.

“Toe ek jonger was, het ek baie saam met my neefs rugby gespeel, maar in my hoërskooljare was raakrugby ʼn skoolsport,” vertel Libbie.

Sy het haarself vinnig in die SA Raakrugbyspan “ingespeel”. In 2015 het sy in Australië deelgeneem aan die Raakrugby-wêreldbeker. Dit was juis in 2014 toe die spanne besig was met voorbereiding vir dié wêreldbeker dat sy deur ʼn afrigter by Tuks raakgesien is.

Raakrugby en hokkie was haar gunstelingspansporte op skool. Sy het ook in atletiek en swem presteer en een van haar swemrekords staan steeds by haar hoërskool.

“Omdat ons skool redelik klein was kon ek ook deelneem aan ander sportsoorte soos netbal, sagtebal, sokker en waterpolo en vir iemand soos ek, wat mal was oor enige sport, was dit ideaal.”

Libbie het na skool Sportwetenskap by Tuks gaan studeer en daarna het Tuksrugby begin beurse gee vir dames en sy het die beurs gebruik om verder te studeer. Sy het haar PGCE (Post Graduate Certificate in Education) – die ou HOD – gedoen en het daarna haar Honneurs in Sportbestuur verwerf. Sy het albei grade met onderskeiding verwerf.

Sy het eers in 2014 regtig by sewesrugby betrokke geraak. “Dit is vir my ʼn baie lekkerder en vinniger spel en die geleenthede is baie meer as met gewone rugby,” sê sy.

Sy meen die damesewespan moes baie meer blootstelling gekry het aangesien Suid-Afrika bekendstaan as ʼn rugbymal land. “In lande soos Amerika, Nieu-Seeland en Australië word die damespanne dieselfde betaal as hulle manlike eweknieë.”

Maar hoe ervaar sy dié vinnige en soms harde fisiese spel aan haar lyf?

“Toe ek aanvanklik begin speel het, was dit vir my uitdagend, veral die fisiese kontak van die sport. Ek was nog altyd redelik fiks, maar mens sal verbaas wees oor wat die kontak van die sewes uit mens vat.

Dit was in die begin nie vir my so lekker nie, maar die oorsee-reis het dit die pyn werd gemaak.

“Met die jare het ek meer begin fokus daarop om my kontakspel te verbeter en dit is die een ding wat gedurende my tyd in Nieu-Seeland baie verbeter het,” sê sy.

Die een wedstryd wat vir haar uitstaan saam met die SA-studente was toe hulle in Italië teen Rusland gespeel het. “Ons was 7-10 agter en ek het op die laaste sekonde deur ʼn “tackle” gebreek en meer as die helfte van die veld gehardloop om vir ons die wendrie te druk,” vertel sy.

Libbie sê sy sou beslis sewesrugby vir meisies in skole wou inbring. Daar is net 12 spelers nodig vir ʼn sewespan wat dit boonop makliker maak om ʼn span bymekaar te kry. Die sport is ook ʼn opsie vir goeie atlete.

“Moenie terugstaan en kyk hoe Boetie die rugbyster van die familie word nie. In vandag se tyd is daar vreeslik baie klem op die belangrikheid en impak van vroue in sport en daar is baie vroue-atlete wat die weg baan vir ons jong meisies om suksesvolle loopbane uit sport te maak,” is haar boodskap aan skoolmeisies.

En is daar iemand spesiaal in dié sewester se lewe?

“Omdat ek so baie oorsee is, is dit moeilik om ʼn ernstige kêrel te hou. Ek dink ook dit is vir ouens ʼn bietjie intimiderend as ʼn meisie amper beter rugby kan speel as hulle. Ek glo egter ek sal nog die regte ou ontmoet wat my sal aanvaar soos die rugbyspeler-boeremeisie wat ek is.”

(ʼn Goeie wenk vir voornemende vryers is dat jy haar in ʼn wip kan vang met ʼn grondboontjiebottermelkskommel of ʼn beesstertpotjie …)

Libbie se boodskap aan skoolmeisies is: “die geleenthede wat ek al gekry het deur my rugby is onbeskryflik. Ek het die geleentheid gekry om te studeer as gevolg van my rugby en ek was al so baie oorsee dat dit vir my voel soos ʼn alledaagse ding. As meisies en ouers meer oopkop is oor vrouerugby sal hulle ook die vrugte daarvan kan pluk.”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.