Liggaam gevind — is dit Monique?

Lyk-gevind

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die liggaam van ‘n vrou is Vrydagmiddag 6 Mei in die bosse by die plaas De End naby die Deelkraalpad net langs die Stockpoortpad deur ‘n persoon opgemerk en Lephalale polisie is na die toneel ontbied. Die liggaam was reeds in ‘n gevorderde stadium van ontbinding, maar volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, was ‘n tatoeërmerk in haar nek wel sigbaar en daar was ‘n ring (of ringe) in haar oor wat kan help met die uitken van die liggaam. Volgens a.o. Mokoena was die liggaam naak met slegs sokkies aan die voete.
Sosiale media-forums het gegons oor die moontlikheid dat dit die liggaam is van Monique (Monica) Barnard wat sedert 7 April vanjaar vermis word, maar niks kan bevestig word voordat die uitslag van die DNS-toetse bekend is nie.
‘n Vrou, wat anoniem wil bly, het aan Mogol Pos vertel dat sy deel was van die groep saam met wie Monique in die vroeë oggendure van 7 April, nadat sy weggeloop het, gekuier het en dat daar na bewering dwelms betrokke was. Sy het ook bevestig dat Monique daar weg is saam met ‘n man en dat sy blykbaar die laaste keer saam met dié man gesien is. Sy sou die inligting aan die polisie deurgee.
Louise Loubser, Monique se ma, is versoek om nie inligting met die koerant te deel nie, omdat dit die polisie se ondersoek kan beïnvloed. Sy het egter gesê dat haar hart in stukke is en dat alles vir haar net erger word en dat sy nie weet hoe om aan te gaan nie. Haar bloed is Dinsdag getrek vir DNS-toetse en ‘n outopsie op die liggaam is Woensdag in Mokopane (Potgietersrus) gedoen. A.o. Mokoena sê dit kan weke neem voordat die uitslae van die ondersoeke bekend is.
Boodskappe van simpatie, sterkte en gebede stroom intussen in op Louise se Facebookblad.
‘n Moordsaak is geopen (MAS 49/05/2016) en die ondersoek duur voort.
Enigiemand met enige inligting wat kan bydra tot die ondersoek, word versoek om a.o. Mokoena te skakel by 072 465 9056.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.