LEPHALALE — Die bestuurder van ’n SsangYong nutsvoertuig het vermoedelik Sondag 2 Augustus om 19:15 beheer oor die voertuig verloor nadat ’n luiperd oor die pad gehardloop het.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale klusterwoordvoerder, was die bestuurder en vier passasiers op die R518 vanaf Marken op pad na Lephalale toe die voorval ongeveer 14 km buite Lephalale plaasgevind het.
Al die insittendes is in die voorval beseer en deur nooddienste op die toneel na Ellisras Distrikshospitaal geneem.
Die luiperd het dood langs die pad gelê.
’n Saak van roekelose en nalatige bestuur is by Lephalale SAPD geopen.