Maak saam die wêreld ʼn beter plek

LEPHALALE — Bianca Els, ʼn bedryfsielkundige van Lephalale, het die leerders van Hoërskool Ellisras Maandag 12 Febuarie toegespreek oor “Boelie”. Volgens ʼn onderwyser wat die verrigtinge bygewoon het, was die praatjie “verfrissend anders” as dit waaraan hulle gewoond is.

Die spreker het leerders geïnspireer om op te staan vir hulleself en aangemoedig om na ʼn onderwyser, ouer of sielkundige te gaan as dit nie werk om vir jouself op te staan nie. “Moenie stilbly nie en moenie toekyk hoe iemand voor jou oë geboelie word en niks daaraan doen nie. Moenie ʼn lafaard wees nie,” het sy gesê.

Bianca Els het die leerders laat opstaan en “Lean on Me” uit volle bors laat sing terwyl almal mekaar vashou

Volgens haar dink 14% van boelieslagoffers aan selfdood en 7% pleeg regtig selfdood. Die term “boelie” kan verbale aanvalle, fisiese geweld asook kuberboelie behels. Volgens haar is die kans groot dat die een wat boelie, buite die skool geboelie word. 

Hy boelie dan by die skool om in beheer te voel. Boelie vloei ook uit die feit dat mense “anders” is. “Waarom word mense geboelie wat anders is as jy? En wie vertel vir jou jy is ‘cool’? Hoe weet jy dit? Daarom bly leerders stil, party kyk toe en sê niks, want hulle wil ‘in’ wees. Mense het kos en water nodig om te oorleef, maar meer nog, aanvaarding en liefde. Moenie stilbly nie, moenie toekyk en niks doen net omdat jy deel van die ‘cool’ kinders wil wees en aanvaar wil word nie. Vandag is die dag wat jy onderneem om eerder die wêreld ʼn beter plek vir mekaar te probeer maak en die rede te wees dat iemand weer probeer,” het sy afgesluit.

Sy het die leerders laat opstaan en “Lean on Me” uit volle bors laat sing terwyl almal mekaar vashou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.