Magda sien met haar hart

Sonja en Magda

LEPHALALE — Magda van der Walt het Saterdag 1 Oktober die VLU Bosveldstreek se Damesoggend saam met Sonja Heroldt bygewoon. Magda se teenwoordigheid was egter vooraf beplan, want toe Ria Strydom, voorsitter van die VLU Bosveldstreek, ʼn Pêrelvrou vir die geleentheid moes aanwys, kon sy aan geen groter inspirasie dink as Magda nie.
Magda is ʼn paar jaar gelede gediagnoseer met ʼn rare oogsiekte wat veroorsaak het dat sy mettertyd heeltemal blind geword het. In plaas daarvan om te gaan lê, het sy by die SA Blindevereniging vir opleiding gegaan.
Dié sterk vrou kla nooit oor haar blindheid nie en dit is verstommend wat sy doen – ten spyte daarvan dat sy nie kan sien nie.
Magda oefen onder meer daagliks in haar tuisgimnasium, het reeds vier keer die Comrades-marathon voltooi (sy was reeds blind tydens die laaste een), sy doen twee keer per week Pilatusoefeninge en sy waterski graag saam met haar gesin.
Magda is boonop ʼn aktiewe lid van die VLU Soetdoringstreek, ʼn leier van ʼn omgeegroep, deel van haar kerk se Bybelstudiegroep, die broodrolletjiesmeerder by die kerkbasaar se hamburgerstalletjie en vele meer.
Wat Magda nog meer merkwaardig maak is die feit dat sy koekies bak, kook, wasgoed en skottelgoed was, serpe en musse brei en sowaar kwiltwerk doen.
Magda sê sy merk elke bolletjie wol met ʼn klein stukkie karton waarop die kleur in braille getik is – dis hoe sy weet watter kleur om te gebruik!
Haar kwiltwerk het begin nadat sy teenoor ʼn vriendin opgemerk het dat sy soms lus is om naaldwerk te doen.
Die tegniek wat sy gebruik word “paper piecing” genoem. Haar vriendin het die papierdriehoeke waaruit die kwilt bestaan uitgeknip en met gom op die driehoeklappies vasgeplak. Magda het elke lappie self om die papiertjie gevou en vasgeryg. Toe die driekhoekies klaar was, het haar vriendin die patroon vir haar uitgepak en die stroke met spelde aanmekaar vasgesteek. Magda het die driehoeke met fyn oorhandsteke vasgewerk en dan weer die stroke.Toe sy daarmee klaar was het ʼn ander vriendin die agterkant en deurstikwerk vir haar gedoen.
Ongeveer drie jaar gelede is Magda se oudste seun in ʼn motorfietsongeluk dood en sy was verpletter. Sy het besluit sy wil ʼn kwilt maak ter herinnering aan haar seun, Kobus. Omdat hy baie lief was vir blou, is die kwilt oorwegend in skakerings van blou gemaak.
Sy sien ook “Kobus se kwilt” as bewys van hoe sy opgestaan het uit haar verdriet en aangaan met ‘n lewe van vreugde in die Here.
Soos Ria Strydom tereg gesê het – Magda is ʼn ongelooflike aansporing vir elke vrou.
“Sy sien anders as ander mense want sy sien met haar hart”.

Leave a Reply