Malariadood “net te gou”

LEPHALALE — Christine van Staden (44) is Vrydagmiddag 9 Februarie om presies 13:17 in die Pretoria-Oos Hospitaal oorlede nadat sy die vorige dag met serebrale malaria gediagnoseer is.

Volgens haar dogter, Zelna van Staden, het sy Maandag 5 Februarie ʼn galblaasoperasie in Mediclinic Lephalale ondergaan. Sy het volgens Zelna baie koors en pyn gehad ná die operasie, maar, omdat sy voorheen koors gehad het van narkose, het hulle gedink dit is weer die geval.

Teen Woensdag 7 Februarie het sy nie goed gelyk nie en sy is die aand oorgeplaas na Pretoria-Oos Hospitaal. Sy is Donderdagoggend om 05:00 weer teater toe geneem om vas te stel of daar dalk infeksie in haar wond is, maar daar was niks met die wond verkeerd nie. Bloedtoetse daarna het aangedui dat sy serebrale malaria in ʼn gevorderde stadium het.

Volgens Zelna het haar ma dadelik medikasie vir malaria begin ontvang, maar van haar organe, onder andere haar longe, het reeds begin ingee. Sy is Vrydagmiddag oorlede.

Christine was ʼn streeksbestuurder en het die hele Limpopo deurkruis as deel van haar werk – dit is dus onmoontlik om te probeer vasstel waar sy die malaria kon opgedoen het.

Haar gesin sê dit is ondenkbaar dat sy weg is. “Dit was net te gou en onverwags.”

“My ma was ʼn ongelooflike mens. Die meeste mense sal sê sy was ʼn Engel. Ons steunpilaar. Mamma los diep spore in ons harte. ʼn Mamma altyd; ʼn Engel vir ewig,” is Zelna se huldeblyk aan haar ma.

Christine laat onder andere haar man, Johan, en haar kinders, Zelna, Wynand en Hannes agter.

Christine se begrafnis word Vrydag 16 Februarie om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Magol gehou.

(Zelna het onlangs die foto van Christine geneem en sy sê haar ma het haar verbied om die foto vir enigiemand te wys … Sy het egter die foto vir Mogol Pos gegee omdat sy goeie herinneringe het aan die dag toe die foto geneem is en dit ʼn “gelukkige” foto is. Rus in vrede Christine – Red.)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.