Man sterf op pad na werk

Leoni Kruger
LEPHALALE — Piet Fourie, die afgelope ses jaar werksaam in die meganiese afdeling by Murray & Roberts, is Vrydagoggend omstreeks 05:10 op slag dood nadat hy na bewering deur ‘n Volkswagen Crafter minibus getref is. Piet was oudergewoonte met sy motorfiets op pad werk toe by Medupi.
Volgens ooggetuies was die Crafter op pad vanaf rigting Onverwacht na Lephalale dorp toe die bestuurder van die Crafter na bewering oor die rooi verkeerslig gery het op die hoek van Rupertstraat en Nelson Mandelarylaan en Piet se motorfiets getref het. Piet is noodlottig beseer in die voorval.
Volgens Piet se vrou, Gerda, was sy ook op die ongelukstoneel nadat sy gehoor het daar was ‘n motorfiets betrokke. Sy het Piet se valhelm, wat gebreek het van die impak, huis toe geneem.
Piet en Gerda het reeds twee kinders as gevolg van padongelukke aan die dood afgestaan. Hul dogter (toe 17 jaar oud) is in 2004 in Empangeni in ‘n motorongeluk dood en hulle seun (toe 21 jaar oud) is in 2015 naby Brits dood in ‘n motorongeluk.
Piet sou vanjaar op 13 Julie 55 jaar oud geword het.
Die Crafter se insittendes is nie beseer nie.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, is ‘n saak van strafbare mansslag teen die bestuurder van die Crafter geopen.
Hy sal binnekort in die hof verskyn waar ‘n waarskuwingsverklaring aan hom voorgehou sal word. Mokoena sê die hof sal beslis wat verder gebeur en of hy aangekla moet word.
‘n Roudiens word op Saterdag 8 Julie om 14:00 vanuit die NG Kerk Ellisras-Wes in Onverwacht gehou. Pastoor Neels Barnardo sal die diens waarneem.
Skakel Neels by 079 814 4845 vir navrae.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.