Mara Lottering – 19 September 1949 – 3 Mei 2017

Mara was ‘n vrou, dogter, suster, ma, ouma en vriendin vir dié na aan haar. ‘n Formidabele vrou wie haar plek in haar familie en gemeenskap volgestaan het.
Haar familie was haar lewe. Sy en haar sussies het ‘n besondere hegte band gehad; haar ‘Ou Lelik’, Johan, was haar steunpilaar en beste vriend; haar twee kinders Johan en Natasia was haar trots en haar kroon, maar die twee kleinkinders was Ouma se hart se punt.
Mara was, deur haar borrelende persoonlikheid en werk as distriksuster wie die mobiele kliniek behartig het, oraloor bekend en bemind. Enigeen met ‘n kwaal of ‘n kwelling kon Mara kontak, sy was altyd reg met haar kundige advies en ondersteuning.
As ouer was sy baie betrokke by die destydse plaasskooltjie by Beauty (Laerskool Libertas) en sy het saam met die ma’s aan die Beauty-korfbalklub behoort. Sy was verbasend rats op haar kort beentjies.  Sy was ook ‘n voorste skut by die plaaslike skietklub.
Skoonma Gruia Lottering (sy was die stigterslid van Beauty VLU) het haar voorgestel aan die dames van Beauty VLU. Daar is een keer per maand in die skoolsaaltjie van Laerskool Libertas vergader en Mara se liefde vir die VLU en spesifiek Beauty-tak, het hier begin.
Sy sluit op 1 Februarie 1978 by die VLU aan en vir amper 40 jaar was sy ‘n toegewyde lid. Die lede van VLU Beauty beskryf haar as die gom wat alles aan mekaar gehou het. Met ‘n skerp sin van humor het sy die mees gepaste byname gegee, wie kan nou nie die ‘Heilige Koei’ onthou nie? Sy was ook ‘n bok vir sports en het met die onlangse streekskonferensie weggeval met ‘n walsie op die vloer op die maat van boeremusiek.
As daar gewerk moes word vir fondsinsameling was Mara daar met haar gasstofie en pannekoekpanne. As daar ‘n funksie was, was Mara daar, uitgevat.
Mara se afsterwe laat vir seker ‘n onmeetbare leemte – nie net in Beauty-tak nie, maar in die VLU in geheel.
“Ons vind slegs troos in die wete dat sy nou op ‘n beter plek is en sekerlik al klaar besig is om dinge bietjie reg te ruk en haar mede-engele daar bo se standaarde net so bietjie te lig…….Ons is lief vir jou Mara Lottering en gaan jou geweldig baie mis”.
— Beauty VLU
Mara se kinders bedank die gemeenskap vir al die boodskappe en ondersteuning wat hulle in hierdie moeilike tyd ontvang het. “Ons gaan Mamma baie mis”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.