Margy vir Mev SA

Margy Pretorius
Margy Pretorius

Leoni Kruger
VAALWATER — Die 32-jarige Margy Pretorius, grimeerkunstenaar, mevrou dokter en ma van vier, is ‘n semi-finalis in die Schwartzkopf Professional Mrs. SA-kompetisie. Margy se ouers, Gerhard en Margaret de Beer van Vaalwater, is baie trots op hul dogter se prestasie.
Margy het op ‘n plaas tussen Roedtan en Marble Hall grootgeword, maar sê sy het op “baie plekke in Limpopo” gewoon.
Die laaste skoonheidskompetisie waaraan Margy deelgeneem het, is toe haar ma haar as klein dogtertjie vir die Mej. Tinkerbell-kompetisie ingeskryf het.
Sy skryf haar motivering om in te skryf vir die Schwartzkopf Professional Mrs. SA-kompetisie onomwonde daaraan toe dat sy glo die Here het vir haar hierdie platform gegee om ‘n daadwerklike verskil te maak. “Ek het deur ‘n geweldige emosionele wipplank gegaan oor dié kompetisie omdat ek nie my man, Hannes en kinders Jayme (10), Mia (8), Hannes (6) en Ruby (21 maande) wou afskeep nie. Ek glo ook dit inspireer my kinders om te sien dat hulle ma die lewe aangryp” sê sy. “Be bravely you” is haar leuse.
Volgens Margy is dié kompetisie nie eintlik ‘n skoonheidskompetisie nie, maar meer ‘n vrouebemagtingsprojek. “Sterk vrouens met karakter kan soveel meer vir hulle mans en kinders beteken” verduidelik sy.
Margy sê daar is baie dinge wat haar inspireer, waaronder vroue wat steeds uitstyg onder moeilike omstandighede en ‘n verskil maak. Of wanneer iemand wat rede het om ‘n slagoffer te wees, kies om ‘n oorwinnaar te wees.
Mense en kinders is haar passie en sy glo dat daar binne elke mens ‘n skat is wat ontgin moet word.
Liefdadigheidsorganisasies wat baat vind by hierdie Mev. SA-kompetisie is eerstens KANSA, maar hulle ondersteun ook ander, kleiner organisasies.
Margy se toekomsplanne sluit onder andere die skryf van ‘n boek in “wat lankal in haar hart brand”.
Margy voel sy kan ‘n verskil maak in die sin daarvan dat mense oor die algemeen moeg is vir leë beloftes en rolmodelle waarmee hulle nie kan identifiseer nie. “Ek is lief vir mense oor alle grense heen en ek kan met die meeste mense identifiseer. Ek sal Suid-Afrika kan verteenwoordig as ‘n land met omgee-mense wat ‘n impak maak en omgee oor wat in die wêreld aangaan. Ek sal kan wys dat ons land verteenwoordigers het met inbors en hart, met integriteit en goeie waardes” aldus Margy.
Die eerste gala-aand vind op 29 April by Emperors Palace plaas, waar die top 25 deelnemers aangekondig word en die gala-aand waartydens die wenner aangekondig word, vind op 21 Oktober plaas.
Lesers kan Margy volg op instagram, twitter en Facebook onder Margy Pretorius Schwarzkopf Professional Mrs. SA semi finalist.
Lesers kan ook vir Margy stem deur eers die Mrs SA Facebookblad te “like” en daarna spesifiek Margy se foto te “like”.
Margy is een van drie Limpopo-vroue wat as semi-finaliste vir dié kompetisie gekies is. Ephy Mathebula, tans die waarnemende finansiële bestuurder by Lephalale Munisipaliteit, is ook ‘n semi-finalis in die kompetisie. Hou gerus hierdie ruimte dop vir háár storie in volgende week se Mogol Pos.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.